Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed

Artikels

Skrywers is van nature nuuskierige wesens. Hulle hou van lees en wil graag ingelig bly oor alles wat met skryf te make het.

Dié afdeling is spesiaal vir diegene wat wil weet wat op die Afrikaanse skrywersfront gebeur. Ons probeer om die artikels so gereeld moontlik aan te vul en maak ook graag gebruik van gasskrywers en kenners op hul onderskeie gebiede.


Werk vryskut

Jou besluit is geneem. Jy gaan bedank en op jou eentjie ’n vryskutloopbaan aanpak. Die verandering van ’n besige werkomgewing met mense en ’n miernes van bedrywigheid na ’n tuiskantoor kan ’n kultuurskok wees. As jy kan, gun jouself ’n paar maande om jou voor te berei; verkieslik terwyl jy nog ’n vaste werk het en ’n gereelde salaris kry. 

Is jy uitgeknip daarvoor?  

1.        Die regte houding

Dit is noodsaaklik dat jy jouself en die vaardighede wat jy aanbied as ’n sake-onderneming beskou. Alles wat jy doen, moet wys dat jy professioneel is – van die manier waarop jy die telefoon beantwoord, jou werkruimte en administrasie, tot hoe jy vir mense verduidelik hoe jy ’n bestaan maak.  

2.        ’n Aksieplan

Een van die geheime van ’n suksesvolle onderneming is ’n gefokusde aksieplan. Stel vir jouself kort- en langtermyn-doelwitte sodat daar iets is waarvoor jy werk en sodat jy jou vordering kan meet. En gee jouself af en toe ’n pluimpie vir wat jy bereik het.  

3.        Dissipline

Jy sal spertye hê, maar niemand wat kan seker maak dat jy nog op koers is nie. Dissipline behels onder meer die tyd wat jy aan ’n projek wy, hoe jy jou dag struktureer, om fakture betyds uit te stuur, ’n wakende oog te hou oor jou geldsake, rekeninge betyds te betaal en terugvoer ná afsprake. 

4.        Selfmotivering

Jy moet jouself motiveer as jy vir jouself werk. Jy moet dit geniet en dit nie net vir die geld doen nie, anders kan dit bitter moeilik wees om gemotiveerd te bly.  

5.        Betroubaarheid

Jy moet jou kliënte se spertye nakom. Hulle moet weet dat jou werk op standaard is en betyds klaar sal wees. Jy is net een skakel in ’n ketting en as jy laat is, het dit ’n domino-effek wat op die ou einde ’n hele projek kan laat misluk. Dit is ook onbedagsaam, want dit kan beteken dat ‘skakels’ ná jou in die ketting as gevolg van jou oortyd moet werk. 

Die voor- en nadele

•          Voordele

Die grootste voordele van vryskutwerk is buigsame werkure, om jou eie baas te wees en groter beheer oor jou lewe te hê. Die kanse is ook goed dat jy as vryskutwerker meer geld sal verdien.  

•          Nadele

Die grootste nadeel is dat jy nie geld verdien wanneer jy nie werk nie. As jy en jou gesin van jou vryskut-inkomste afhanklik is, is dit verstandig om inkomstebeskermingsversekering uit te neem sodat jy ’n inkomste sal hê wanneer jy nie kan werk nie. As jou werk beteken dat jy dikwels alleen tuis sal wees, kan jy eensaam raak en geïsoleerd begin voel. Moenie die yskas of telefoon vir troos gebruik nie. Gaan eerder uit en ontmoet iemand in lewende lywe. Jy sal duidelike grense moet vasstel om te verhoed dat jou werk- en gesinsverpligtinge verstrengel raak.   

Kontrakte

•        Stel vas wat die kliënt se finansiële afdeling vereis om jou te kan betaal. Wanneer ’n mens nuut is en graag werk wil hê, slaan jy maklik die papierwerk oor. Dit kan slegte gevolge hê as die kliënt nie ’n mondelinge ooreenkoms nakom nie.  

•        Lig altyd die kliënt vooraf in oor enige koste wat aangegaan sal moet word om die werk te voltooi. Soms moet die kliënt skriftelike toestemming of ’n bestelnommer kry voor die werk kan voortgaan.  

•        Lig die kliënt dadelik in as onvoorsiene uitgawes opduik en kry toestemming om voort te gaan. Doen jy dit nie, sal jy dalk self moet opdok.  

•        Stel ’n standaard-ooreenkoms op waarin jy die diens uiteensit wat die kliënt van jou kan verwag, asook wat jy van die kliënt nodig het sodat jy jou werk behoorlik kan doen.  

Stel jou tarief so vas

•        Tariewe vir vryskutwerk is gewoonlik per uur. Jy sal uit ervaring leer hoe lank dit neem om ’n spesifieke stuk werk af te handel. Maak voorsiening vir versteekte uitgawes soos petrol, telefoonoproepe, fakse en e-pos.  

•        Doen navorsing oor die tariefstruktuur van die veld waarin jy wil werk en hou daarby. Veral in die begin is dit nogal ’n versoeking om minder as jou kompetisie te vra. Dit kan jou egter later benadeel as jy jou tariewe verhoog.  

•        As jy met ’n nuwe kliënt werk, dring aan op ’n 50 persent deposito wat vooraf betaalbaar is, terwyl die oorblywende bedrag binne 30 dae vandat die werk voltooi is, betaal moet word. Stuur jou fakture nougeset uit en hou tred met wat betaal is en wat nie.  

Finansiële intelligensie

Jy sal nie elke maand ewe veel werk hê nie. Vryskutwerk kom dikwels in oorvloed óf dit is bitter skaars. Desember en Januarie is berug as maer maande, wat beteken jy het eintlik net 10 maande om 12 maande se inkomste te verdien. Sit gedissiplineerd geld weg. Jy moet ’n aparte besigheids- en spaarrekening hê en onmiddellik 30 persent van elke betaling wegsit vir onvoorsiene uitgawes. Probeer om nie net vir een kliënt te werk nie. Jy kan om die een of ander rede die kontrak verloor en dan sit jy in sak en as. Bou ’n kliëntebasis op en soek gereeld nuwe werk. 

Die papierwerk

Die volgende belasting- en besigheidsraad vir vryskutwerkers kom van Milton Lutrin van Lutrin en Vennote: 

•        As jy meer as R30 000 per jaar verdien, moet jy ’n belastingopgawe indien. Registreer jou by SAID (Suid-Afrikaanse Inkomstediens) as ’n belastingbetaler.  

•        Wanneer jy met ’n projek begin, kan jy by SAID aansoek doen om ’n belastingaanwysing, wat die belastingkoers vasstel wat die kliënt as werkgewer van jou rekening moet aftrek. SAID se vasgestelde belastingaftrekking vir kontrakwerkers is 25 persent. ’n Belastingaanwysing is gewoonlik minder as dit. Maar jy sal vir elke individuele projek om ’n belastingaanwysing moet aansoek doen. Baie vryskutte verkies dat die volle bedrag afgetrek word, want dan word die gedeelte later aan hulle terugbetaal, wat ’n vorm van spaar is.  

•        In sekere omstandighede is dit beter om ’n voorlopige belastingbetaler te word en twee keer per jaar – in Februarie en Augustus – belasting te betaal. Jy is daarvoor verantwoordelik om die belasting in te betaal en jy moet seker maak dat jy die geld elke maand opsysit.  

•        Die belastingopgawe vir ’n vryskut-onderneming is redelik ingewikkeld en dit kan kostedoeltreffend wees om ’n belastingkonsultant aan te stel. Hulle kan jou raad gee oor belastingaanwysings en sal weet watter kortings jy kan eis omdat jy van die huis af werk.  

•        Sorg dat jy behoorlik boekhou. Dis belangrik dat jy ’n volledige geskiedenis het van alle transaksies. Hou rekord van alle inkomste en uitgawes, en bêre afskrifte van jou belastingopgawes, enige dokumentasie oor jou versekeringspolisse en dies meer.

- Bron: Idees Tydskrif

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Tuisblad Skryfkursusse Blitskursusse

Sluit venster


Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: