Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed
Artikels
Skrywers is van nature nuuskierige wesens. Hulle hou van lees en wil graag ingelig bly oor alles wat met skryf te make het.
Dié afdeling is spesiaal vir diegene wat wil weet wat op die Afrikaanse skrywersfront gebeur. Ons probeer om die artikels so gereeld moontlik aan te vul en maak ook graag gebruik van gasskrywers en kenners op hul onderskeie gebiede.
Outeursreg verduidelik
Outeursreg (populêr ook bekend as kopiereg) is 'n vorm van Intellektuele Eiendom en verleen aan die outeursreghouer die reg om, vir 'n bepaalde tydperk, andere te verbied om skendende kopieë of reproduksies van sy geestesgoedere te vervaardig, om dit te publiseer, dit in die publiek op te voer en, in sommige gevalle, om dit uit te huur of te koop aan te bied. Reproduksies van 'n reproduksie word ook uitdruklik verbied. Alle aangeleenthede insake outeursreg word in Suid Afrika deur die Wet op Outeursreg 98 van 1978 gereël en geen ander outeursreg anders as uit hoofde van hierdie Wet bestaan nie.
Outeursregte bestaan op werke van outeurskap ("works of authorship"), d.w.s. letterkundige werke, musiekwerke (komposisies), artistieke werke, rolprente, klankopnames, uitsendings ("broadcasts"), programdraende seine, gepubliseerde uitgawes en rekenaarprogramme. (Dit is in teenstelling met patentregte wat op uitvindings van toepassing is).
Geen formaliteite word van staatsweë vereis vir die verkryging van outeursregte nie, aangesien outeursreg outomaties volgens die Wet van krag word. Dit is egter wenslik om die datum en naam van die outeursreghouer en ‘n outeursreg-aanspraak
Kopiereg © (Jaartal)
Alle regte voorbehou
op die oorspronklike werk aan te bring.
Outeursregwerke van personeel en studente van die Universiteit wat in die normale gang en bestek van hul werk en/of studie tot stand gekom het, moet soos volg geïdentifiseer word:
Kopiereg © (Jaartal) Universiteit van Stellenbosch
Alle Regte Voorbehou
waar die datum (Jaartal) in die verklaring die jaar is waarin die werk die eerste keer gepubliseer is.
‘n Suid-Afrikaanse outeur sal outeursregbeskerming op sy werk nie slegs in Suid-Afrika geniet nie, maar ook in alle lande wat die Outeursregkonvensie van Bern, 1886, soos gewysig, onderskryf.
Daar kan op Outeursreg aanspraak gemaak word op onder andere:
Letterkundige werke:
Dit sluit in romans, verhale, digwerke, dramatiese werke, verhoogaanwysings, rolprentdraaiboeke, uitsaaitekste, handboeke, verhandelings, historiese werke, biografieë, essays, artikels, ensiklopedieë, woordeboeke, briewe, verslae, memoranda, lesings, toesprake, preke, tabelle en samestellings, met inbegrip van tabelle en samestellings van data wat in ’n rekenaar of ’n medium wat tesame met ’n rekenaar gebruik word, geberg of vasgelê word, maar nie ook ’n rekenaarprogram nie;
Let daarop dat die werke nie noodwendig van besondere letterkundige waarde hoef te wees nie. Dit is egter 'n vereiste dat sodanige werk na 'n stoflike vorm herlei is (nie noodwendig skriftelik nie).
Musiekwerke (komposisies):
Woorde of handelinge wat daarop gemik is om saam met die musiek te sing, word spesifiek uitgesluit aangesien dit reeds as letterkundige werk beskerming geniet.
Artistieke werke:
Dit sluit in skilderye, beeldhouwerk, tekeninge, gravures, foto’s, boukundige werke wat òf geboue òf modelle van geboue is, of handwerke.
Rolprente:
Dit geld slegs die vaslê van beelde en sluit ook die klankbaan van die rolprent in. Videobande word ook hier ingesluit.
Klankopnames:
Klankopnames kan onafhanklik van die outeursreg op musiekwerke of letterkundige werke bestaan.
Uitsendings ("broadcasts"):
Dit is die oorsending van klanke, beelde, tekens of seine en wat bedoel is vir die publiek (veral t.o.v. afstandsonderwys programme).
Programdraende seine:
Dit is 'n sein (elektroniese inligtingsdraer) wat 'n program bevat wat uitgesend word en deur 'n satelliet gaan.
Gepubliseerde uitgawes:
Dit is die eerste tipografiese ordening van 'n letterkundige werk of musiekwerk. Daar kan dus afsonderlike, onafhanklike outeursreg bestaan in die basiese letterkundige werk, en in die eerste gedrukte uitgawe daarvan.
Rekenaarprogramme:
'n Werk sal slegs as 'n rekenaarprogram beskou word indien dit reeds tot so 'n vlak van ontwikkeling gevorder het waar dit direk of indirek in 'n rekenaar gebruik kan word. Voorlopige werke (vloeikaarte) val steeds onder die 'letterkundige werke' kategorie. Die kategorie is soms vatbaar vir beide patentreg- en outeursregbeskerming.
As algemene reël is die outeur ook die outeursreghouer (d.w.s. die eienaar van die outeursreg). Die Outeursregwet het egter 'n aantal kategorieë van uitsonderings wat deur artikel 21(1) van die Wet gereël word. Die wet is baie duidelik omtrent die feit dat die werkgewer beskou sal word as die eienaar van outeursregwerke wat deur sy werknemers die normale bestek van hul diens geskep is. Die eienaars van koerante, asook die opdraggewers vir spesifieke take ("work for hire") word ingesluit by die begrip "werkgewer".
Die wet brei in detail uit oor die presiese bepaling van die eienaarskap van outeursregte, juis om onduidelikhede uit die weg te ruim. As voorbeeld kan foto's genoem word. In hierdie geval is die samesteller van die foto die outeur, en nie noodwendig die kameraman wat die knoppie op die kamera gedruk het nie. [Artikel 1(1)].
Vir letterkundige, musiek- en artistieke werke (nie foto's nie) bestaan outeursreg vir 'n tydperk van 50 jaar bereken vanaf die einde van die jaar waarin die outeur dood is.
In die geval van anonieme of pseudonieme werke bestaan outeursreg vir 50 jaar bereken vanaf die einde van die jaar waarin die werk aan die publiek bekend gestel is mét die toestemming van die outeur, OF 50 jaar vanaf die einde van die jaar waarin die outeur dood is of redelik seker aanvaar kan word dat hy dood is.
Waar mede-outeurs betrokke is word die tydperk van 50 jaar bereken vanaf die einde van die jaar waarin die laaste outeur dood is.
Die outeursreg op foto's, rolprente en rekenaarprogramme geld vir 50 jaar bereken vanaf die einde van die jaar waarin die werk die eerste keer aan die publiek bekend gestel is mét die toestemming van die eienaar van die outeursreg, OF 50 jaar vanaf die einde van die jaar waarin die werk vervaardig is indien die eienaar nie toestemming verleen het nie.
In al die ander kategorieë bestaan outeursreg vir 50 jaar bereken vanaf die einde van die jaar waarin die werk die eerste keer gemaak is.
- Bron: Universiteit van Stellenbosch
Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.