Welkom by SA Vryskutskrywer - Gratis goed

Welkom by JOU skryfklub!

Die doelwit van hierdie virtuele skryfklub is om vir jou 'n platform te verskaf waar jy jou stories, gedigte of enige ander skryfsels kan plaas sodat ander mense dit kan lees en selfs terugvoering kan gee.

Dis verspot-maklik om deel te word van hierdie Skryfklub. Al wat nodig is, is dat jy by die groep moet aansluit. Dis 'n oop groep, so almal wat lief is vir skryf is welkom om deel te word.

Maar... al jou pennevrugte gaan net mooi niks beteken as niemand dit lees nie! Vertel dus dadelik vir al jou familie en vriende van hierdie skryfklub en vra hulle sommer ook om aan te sluit. Sodoende sal hulle dadelik weet as jy weer iets gepubliseer het.

Laat ook al jou Facebook-en ander sosiale media-vriende en -vlinders weet sodat jou skryfsels so wyd as moontlik gepubliseer - én gelees - kan word.

Deelname aan die blog is GRATIS, maar ons het noodgedwonge 'n paar riglyne:

Maak seker van spelling en grammatika. Min goed laat 'n aspirant-skrywer so erg tot in sy/haar haarwortels bloos soos 'n geskrewe stuk wat wemel van spelfoute of grammatikale gramadoelas. Wat jy publiseer is immers die weerspieëling van jou skryftalent en as dit werklik te swak of slordig geskryf is, gaan dit jou nogal laat sleg lyk.

Hou in gedagte dat hierdie 'n oop klub is. Moet asseblief nie kyk of jy ander lesers kan skok deur lasterlikhede van enige aard in jou stories te gebruik nie. Jy wil oefen om 'n goeie skrywer te word, nie vyande maak nie.

Ons poog om die klub so vry as moontlik te hou , maar behou tog die reg voor om stories of gedigte te weier wat dalk aanstoot kan gee of glad nie publiseerbaar is nie. So pas maar eerder selfsensuur toe voordat jy iets pos.

Jy kan anoniem plaas. Indien jy voel jy is nie nog gereed om jou skryfwerk onder jou naam aan die groot klok te hang nie, maar jy wil graag opbouende kommentaar kry, kan jy anonieme plasings maak. Geen groeplede sal jou profielfoto of naam kan sien nie, maar wel jou skryfwerk.

So ja, nou is al die amptelikhede uit die weg geruim en jy kan net aansluit en begin skryf.

Sien jou daar!


Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: