Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskutgereedskapskis

Bruikbare wenke

Geeneen wat 'n skryfbesigheid bedryf of vryskut werk kan verby 'n bruikbare wenk kyk nie en ons hier by SA Vryskutskrywer is geen uitsondering nie. Wenke, wenke en nogmaals wenke is altyd meer as welkom in 'n vryskutskrywer se gestresde én gejaagde lewe en as jy 'n beproefde wenk met 'n mede-gestresde kollega kan deel sal ons dit met ope arms aanvaar.

Stuur enige bruikbare wenke per e-pos aan  en noem sommer of jy geneë is daarmee as ons jou naam en/of besonderhede by jou wenk publiseer.

Tien wenke vir skrywers wat wil publiseer

1. Lees , en lees wyd – nie slegs Afrikaans nie, maar wêreldletterkunde, verkieslik oor verskillende genres heen. As jy nie self (gereeld) lees nie, is dit baie onwaarskynlik dat jy goed sal kan skryf.

2. Navorsing , navorsing, navorsing. Biblioteke, koerantargiewe, ens. Wees versigtig vir die internet; daardie bronne is nie altyd betroubaar nie, maar soms is dit tog ’n goeie wegspringplank. Of skryf oor onderwerpe wat jy reeds goed ken.

3. Skryf omdat jy móét skryf en iets het om te sê, nie omdat die idee van skrywer wees vir jou aantreklik is nie. En jou individuele vaardighede is wat van jou ’n goeie skrywer kan maak, nie die feit dat jy presies kan skryf soos iemand wat jy dalk bewonder nie. Vind jou eie stem.

4. Skryf altyd met goeie woordeboeke byderhand – as ’n skrywer nie kan spel nie, skep dit dadelik ’n slegte indruk. Dis ’n goeie idee om jou teks vir ’n goeie proefleser te gee voordat dit na ’n uitgewer gaan.

5. Jou taalgebruik moet in diens van die verhaal staan. Min dinge is so irriterend soos ’n hiperformele register wanneer die teks nie daarna vra nie; dan kom die taal tussen die leser en die storie, en vlieg die “willing suspe nsi on of disbelief” by die venster uit. Wees versigtig vir clichés en “hiperboliese” taalgebruik (hoogdrawende uitdrukkings, uitroeptekens, ’n oorvloed byvoeglike naamwoorde, ens) – mik eerder vir subtiliteit en implisietheid (dialoog uitgesluit).

6. Werk met ’n basiese raamwerk , sodat jy bakens/verwysingspunte het – die meeste skrywers vind dit gerusstellend om te weet waarheen hulle op pad is. Maar dis ook net ’n riglyn; as ’n karakter ’n eie koers begin inslaan, of belangriker word as geantisipeer, moet jy die verhaallyn dienooreenkomstig kan aanpas.

7. Kom in die gewoonte om ’n notaboek en skryfding byderhand te hou – as iets wat bruikbaar kan wees jou opval, skryf neer.

8. Gebruik genoeg detail om dít waaroor jy skryf, geloofwaardig te maak, maar wees versigtig vir óórvolledigheid wat die tempo kan vertraag en die leser se geduld kan beproef. Detail moet funksioneel wees, nie bloot om die teks kunsmatig lyf te gee nie. Pasop veral vir “mooiskrywery”.

9. Probeer ’n balans handhaaf tussen die “aard” van jou karakters en dit wat jy met hulle wil bereik ; dat die een nie bloot in diens staan van die ander nie. Vra jouself: Waarheen is ek op pad met hierdie karakter? Wat dryf hom/haar? Hoe sou hy/sy optree in ’n bepaalde situasie? Probeer ook antisipeer hoe die leser se kop sal werk wanneer hy/sy jou verhaal lees, en speel met daardie verwagtinge …

10. Dink uiteraard ook voortdurend aan die mark waarvoor jy skryf – wie jy daarmee wil bereik. Elke skrywer wil immers geléés word …

- Bron: Sanlam LetRaad (Etienne Bloemhof)

Volg ons op Pinterest

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Tuisblad Skryfkursusse Terug

Sluit venster

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: