Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskutgereedskapskis

Bruikbare wenke

Geeneen wat 'n skryfbesigheid bedryf of vryskut werk kan verby 'n bruikbare wenk kyk nie en ons hier by SA Vryskutskrywer is geen uitsondering nie. Wenke, wenke en nogmaals wenke is altyd meer as welkom in 'n vryskutskrywer se gestresde én gejaagde lewe en as jy 'n beproefde wenk met 'n mede-gestresde kollega kan deel sal ons dit met ope arms aanvaar.

Stuur enige bruikbare wenke per e-pos aan  en noem sommer of jy geneë is daarmee as ons jou naam en/of besonderhede by jou wenk publiseer.

Mens kan self jou boek uitgee, maar...

    deur Jeanette Ferreira

Een van die groot vrae aan my onlangs by die Universiteit van Pretoria se winterskool was: Kan ’n mens jou boek self publiseer?

Antwoord: Ja, jy kan. Maar, die ding van geld, vaardigheid en kennis is ’n probleem.

Eerstens moet jy ’n groot kontantbedrag neersit voordat jou boek wins oplewer. Vir ’n boek van 128 bladsye kan jy tans by ’n drukker beding vir ’n drukprys van sowat R20 000 tot R22 000. Dit sal jou grootste enkeluitgawe wees. En jy sal waarskynlik die helfte van die drukprys vooraf moet betaal.

Maar voordat jy by die drukproses kom, is daar heelwat ander uitgawes. Soos die uitlegkunstenaars wie se pryse tussen R32 en R42 per bladsy wissel. Omslagontwerpers vra tussen R4 500 en R12 000.

Foto’s is tans nog die gewildste vir ’n omslagontwerp. As jy ’n foto by ’n foto-agentskap koop, dok jy maklik R3 000 tot R10 000 op. Vir drukdoeleindes moet die foto ’n resolusie van minstens 300 dpi hê as jy ’n eie foto gebruik. ’n Vaardige uitlegkunstenaar sal jou hieroor raad kan gee, maar ook teen ’n prys. En wanneer jou boek gedruk is, moet ’n kundige bemarker dit versprei en versend.

Ek stel voor jy tik “selfpublikasie” op die internet in. Heelwat agentskappe is bereid om hierdie sake vir jou te hanteer, maar ook natuurlik teen ’n prys. Of dalk is jy bereid om elke dag poskantoor toe te ry – as jy uit die niet ’n koper kry. Of om met die boeke in jou kattebak van boekwinkel na boekwinkel te ry.

Doen jy dit wel, moet jy nie verbaas wees om ’n skeptiese boekhandelaar aan te tref nie. Sowel boekhandelaars as resensente koester ’n gesonde agterdog jeens selfgepubliseerde boeke – en nie sonder rede nie. Die meeste selfgepubliseerde boeke is op die goedkoopste moontlik papier gedruk, soms so dun dat bladsy twee op bladsy een deurskyn. Dis nie die soort boek waarom ’n boekhandelaar bekend wil staan nie.

Dit besef jy egter eers wanneer jy die drukker betaal het en met die produk in jou hande staan. Verder wemel sulke boeke gewoonlik van spelfoute en lomp stelwyses; kennelik was dit nie naby ’n keurdersoog of ’n redakteurshand nie. Of dit blyk duidelik dat die outeur nie vertroud is met marktendense wat omslagontwerp betref nie.

Ook ontstaan die ongemaklike vraag: Het hierdie outeur op selfpublikasie besluit omdat geen uitgewery die manuskrip goed genoeg geag het vir publikasie nie? (Skromelik ten spyte daarvan dat al die outeur se familie en vriende gemeen het dit móét gepubliseer word. Kan jy dit nou oorvertel: Die uitgewerye het nie eens waardering gehad vir die pragtige roospatrone en sierlike rande waarmee die manuskrip opgeluister is nie!)

Nou het ek jou seker uit selfpublikasie gepraat.

Maar dis nie wat ek wou doen nie. Ek wou jou net daarop wys dat skryftalent nie genoeg is om self ’n boek suksesvol te publiseer nie.

Betaal twee of meer bekende keurders (verkieslik keurders wat met die mark vertroud is) om jou manuskrip te evalueer. Keurders vra minstens R1 500 vir ’n verslag. Steur jou aan hul bedenkinge en aanbevelings en konsentreer veral op ooreenstemmende kritiek.

Onthou net, ’n keurder wat sy sout werd is, vind nie net fout nie, maar maak ook aanbevelings om die manuskrip te verbeter. Betaal dan ’n vaardige redakteur om jou manuskrip te help ontwikkel en behoorlik te redigeer. Dit sal jou ’n verdere R110 tot R150 per 1,000 woorde uit die sak jaag.

Redakteurs wat aan ’n uitgewery verbonde is, sal jou nie daarmee kan help nie, want hulle is kontraktueel daartoe verbind is om nie private werk te doen nie. Hulle kan jou wel na ’n vryskutredakteur verwys.

Gaan kyk na omslagontwerpe in boekwinkels en vra een van die omslagontwerpers en uitlegkunstenaars – wat op die kopieregbladsy vermeld word – om van jou manuskrip ’n professionele produk te maak. Vra (en betaal...) die redakteur om vir die boek se agterblad/flap ’n omvattende inligtingstuk waarin die tegniese sake en prys vermeld word en ’n goeie stuk reklame oor die boek te skryf.

Boekhandelaars sal meer belangstel as jy met so ’n inligtingstuk opdaag of dit per e-pos aan hulle stuur, hoewel persoonlike kontak altyd beter is.

Maar voor jy al hierdie geld en tyd bestee, vra jouself af of dit nie van meet af aan vir jou beter en goedkoper gaan wees om te betaal vir ’n skryfkursus by ’n deeglike mentor nie. Jy sal heelparty skryfkursusse op internet opspoor as jy “skryfkursus” intik. En ja, ’n mens betaal daarvoor, want dit is ’n opleidingsdiens. Jy betaal ook om in die beeldende kunste of musiek opgelei te word.

Dis hoe dit is. Maar dit gaan jou minder kos as blindelingse selfpublikasie.

As jy ná ’n skryfkursus self wil publiseer, is jou kanse op sukses veel groter. Moet net nie al die gawe dinge wat ’n skryfkursus jou belowe vir soetkoek opeet nie. Vra ’n hele paar mense wat al dié kursus deurloop het hoe goed die opleiding was, en hoeveel en hoe dikwels die mentor terugvoer gegee het.

Kortom, vra of hulle waarde vir hul geld gekry het. Moet ook nie instem tot ’n reeks algemene gesprekke oor die skryfkuns nie. Maak seker van ’n skryfkursus se inhoud, maak seker jou werk gaan individueel en simpatiek bestudeer word. Maak seker dat jy op praktiese wyse skryftegniek geleer gaan word.

Om te skryf, moet jy oefen en gekritiseer word, oefen en geleer word. En, soos met ander kunsvorme, moet jy die kuns wat jy wil bemeester by die meesters afleer. Iemand wat nie lees nie, kan nie skryf nie. Jy leer trouens ook skryf uit swak boeke, juis omdat jy krities moet lees.

Jy sal waarskynlik die beste kan skryf in die genre en tema wat jy die graagste lees. Maar die mark vir poësie is bitter klein, die mark vir drama nog kleiner, as daar so ’n mark is.

Daar is nog ’n soort “selfpublikasie”: Bied aan om jou boek self te finansier, maar dit onder ’n gevestigde uitgewery se naam te laat uitgee. ’n Mens weet nooit, jy vind dalk so ’n uitgewery.

Dring dan aan op die oorspronklike faktuur vir elke uitgawe, nie ’n algemene kosteberekening nie.

Dalk daag die dag dat selfpublikasie gevestigde uitgewerye verdring. Maar dit sal afhang van hoeveel tyd en geld selfpubliseerders bereid is om aan kundigheid te bestee sodat daar uiteindelik nie meer ’n stigma aan selfpublikasie kleef nie.

Bron: Rapport Boekeblad

Dr Jeanette Ferreira is 'n skrywer, redakteur, en voormalige uitgeweryhoof van verskillende uitgewerye. Sy het reeds 16 boeke in verskillende genres gepubliseer.

Volg ons op Pinterest

Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou geskenk en geheime kodes wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Tuisblad Skryfkursusse Terug

Sluit venster

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: