Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


zalman s. davis

Jy is nooit te jonk om te begin dig nie! Martiens Fourie het met Zalman S. Davis gesels toe sy eerste bundel gepubliseer is. Lees wat hy te sê het oor dig en digkuns.

1. Op watter ouderdom het jy begin dig en hoekom? Hoe oud is jy nou? Waar in die wêreld bevind jy jou? Ek het op die ouderdom van agtien begin dig. Ek het deur ’n baie moeilike tyd in my lewe gegaan en het skryf dus terapeuties gevind. Al my diepste gevoelens wat ek nie met mense kon deel nie, het ek op papier vasgelê. Ek is tansnegentien en is woonagtig te Reivilo (ongeveer 100 km vanaf Vryburg).


2. Waarom juis dig? Het jy al ander genres probeer en iewers gepubliseer? Dig is vir my ’n baie lekker ervaring. Jy kan soveel sê en uitbeeld met baie min woorde en dis vir my altyd lekker. Ek is tans besig met ’n outobiografie en ek skryf vir ’n plaaslike koerant, Stellalander. Ek skryf ook graag kortverhale.


3. Wat is die naam van jou eerste digbundel? Waaroor handel jou gedigte hoofsaaklik? Die naam van my eerste digbundel is Halfgees . My gedigte handel basies oor die daaglikse lewe, asook liefde en hoe ek dit ervaar. Ek gun ook graag die leser ’n geleentheid om my poësie in ’n tydlose aard te lees.


4. Wanneer en waar dig jy? Is digkuns vir jou “maklik”, of is dit uiteindelik ook maar “bloed, sweet en trane”? Ek skryf oor die algemeen laataande. Dit hang ook af in watter soort bui ek is. Dig is vir my soms redelik maklik, maar daar is wel tye wat dit nou régtig bloed, sweet en trane is!


5. Het jy ‘n sekere proses wat jy volg wanneer jy ‘n gedig “maak”? Ek volg net my hart.


6. Is daar nog ‘n digbundel in die pyplyn? Ja, daar is beslis. Nog ’n bundel word beoog – dalk later dié jaar of vroeg volgende jaar.


7. Daar is baie mense wat graag dig en wil publiseer. Wat sou jy sê is die eienskappe waaroor ’n voornemende digter moet beskik? Ek is nie baie lank in die bedryf nie, maar ek sou sê die digter moet sy of haar hart volg en net skryf. Moenie vir iemand anders skryf nie. Skryf net vir jouself. En as jy kritiek op jou werk kry – goed of sleg – neem dit ter harte. Daar is altyd plek vir verbetering. En moet ook nie haastig wees om ’n uitgewer te nader nie. Jy sal weet wanneer die tyd reg is. Ek het ook geleer om iewers in die bedryf te kom, moet jy graag mense kan help wat advies soek. Moenie te veel van jouselfdink nie.


8. Wat was die moeilikste aspek van die digproses vir jou? Die moeilikste aspek van die digproses vir my was toe mense my werk begin kritiseer. Ek was en is baie bang vir slegte kritiek. Ek is wel geleer om dit met ’n knippie sout te neem. Maar dis lekker om goeie kritiek te ontvang. Jy voel so geëerd wanneer jy sien daar is mense wat jou werk waardeer.


9. Is/was daar tye wat jy nie geweet het hoe om verder te gaan nie? (Skrywersblok) Hoe het jy dan die probleem opgelos? Ja, daar wás sulke tye – baie. En daar is steeds. As ek skrywersblok kry los ek alles, skink ’n glasie wyn en gaan sit agteroor met ’n boek. Later probeer ek weer.


10. Wat lees jy self op die oomblik? Ek lees tans “Held up,” deur Christopher Radmann. Dit gaan oor die Suid-Afrika wat ons nou ervaar met die misdaad, moorde, ensovoorts.


11. Op wie/watter mark is jou skryfwerk gerig? My skryfwerk is op alle mense gerig want almal kan my werk lees en verstaan.


12. Jy het seker ‘n redigeerder gehad met die publikasie van die digbundel. Het jy die redigeerder se raad ter harte geneem? Of het jy daarop aangedring om nie baie te verander nie en jou eie kop gevolg? Ja, ek het ’n redigeerder gehad. Ek het sy raad ter harte geneem, maar soms het ek gevoel dat wat hy met my werk doen en hoe hy dit verander verkeerd is. Dit het ek dan vir hom gesê. Help my eerder verbeter in my skryfwerk as om jou kop te volg en dinge te gaan verander soos wat dit jou pas. Ek wil elke stap betrokke wees in my skryfwerk.


13. Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)? Ek is totaal en al versot op Rudie van Rensburg se boeke en het al groot inspirasie uit sy werk gekry. Internasionaal: Wilbur Smith. Hy mag maar skryf.


14. Wat is die grootste fout wat beginnerskrywers, vanaf voorlegging tot publisering, maak? Hulle handig hulle manuskripte onvoltooid in en hulle doen glad nie moeite om hulle werk deur te gaan vir taalfoute nie.


15. Wat is jou toekomsplanne? Sjoe, ek beplan baie. Ek wil my outobiografie laat publiseer, asook my nuwe digbundel. Dan gaan ek ook aan ’n radiodrama werk saam met die skryfster, Edna Cane Swanepoel. Ek is een van die dae in ’n musiekvideo van die sangeres Rea le Roux. En dan gaan ek ook dalk vir Vrouekeur begin kortverhale skryf. Ek het iemand wat my daarmee gaan help. Van my gedigte word ook in liedjies omskep deur ’n sangeres van Namibië, Lynette de Scande.


16. Wie het jou talent “ontdek” en wie het die grootste invloed op jou gehad? Ander skrywers op facebook het my talent raakgesien, asook Leoni Benghiat. Sy speel ook ’n groot rol. Haar kritiek oor my werk het my baie laat verbeter; en dan is daar Christelle van Rooyen by Stellalander, en laaste Johann P. Boshoff.


17. Waar oral kan jou digbundel gekry word? My digbundel kan tans net by my verkry word. Ek is besig om dit in boekwinkels en by Takealot te kry. Dit kan by my bestel word deur ’n e-pos te stuur aan zalmand96@gmail.com of om my telefonies te skakel by 074 317 6762. Die koste beloop R200, insluitend posgeld.


18. Is jy ook op die internet en ander sosiale platforms bedrywig? (Webwerf, Facebook, ensovoorts.) Ja, ek is op facebook. My skrywersblad is Gedigte deur Zalman S. Davis . Halfgees kan ook daar bestel word.


19. Waar is jou digbundel bekendgestel? Hoe het jy gevoel? My bundel is by die Huis van Afrikaanse Poësie bekendgestel in Capital Park, Pretoria, op die 20ste Februarie 2016. Dit was ’n ongelooflike gevoel. Ek was die jongste digter. My bundel was een van die bundels wat die beste verkoop het. Almal het om my kom staan vir foto’s en handtekeninge. Dit was ’n groot eer.


20. Enige ander belangstellings behalwe die Afrikaanse letterkunde? Ek stel baie belang in drama en joernalistiek. My droom is om ’n joernalis te word.

© 2016. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.


Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: