SA Vryskutskrywer is gebore uit 'n behoefte vir en leemte aan hulpmiddels en ondersteuning, asook 'n tekort aan 'n wye verskeidenheid aanlynkursusse vir die duisende Afrikaanse vryskutskrywers hier en in die buiteland.

Welkom by SA Vryskutskrywer - Tuisblad

  • Het jy 'n storie om te vertel of wil jy geld met jou skryfwerk verdien?

  • Sukkel jy om jou manuskrip gepubliseer te kry?

  • Sou jy graag iets vir jou nageslag wou skryf?

  • Benodig jy 'n professionele skrywer, vertaler, redigeerder of proefleser?

  • Soek jy inligting oor die vryskutbedryf, kompetisies of werkgeleenthede?

  • Wil jy sommer net vir die lekker daarvan skryf?

  • Is jy 'n taalfoendie wat professioneel met jou taalaanleg wil woeker?

Indien jy "ja" op enige van bogenoemde vrae kon antwoord is dit tyd om jou passie of behoefte in dade om te skep. Toevallig is jy nou op die regte plek. Ons het die oplossing vir al jou skryfprobleme en -vrae, asook die kennis en vermoë om jou skrywersdrome te bewaarheid...

Laat ons nou maar eerlik wees: vryskutskryf is nie vir sissies nie. Om toepaslike nuus , vasgestelde tariewe , databasisse , dokumente , template en ander hulpbronne in die hande te kry wat spesifiek op die Afrikaanse vryskutskrywersmark van toepassing is, is nie net moeilik nie; dit is soms net gewoon onmoontlik, want "Engels! Engels! Alles Engels! ..."

So... met die groeiende aanvraag na goeie Afrikaanse skryfwerk i n alle genres, gekoppel aan die feit dat ál meer joernaliste weens afleggings in die vryskutpoel beland, is SA Vryskutskrywer daarop gemik om almal by te staan - of jy nou al vir jare in die bedryf is of pas begin.

Ons het iets vir almal - van diegene wat hulp benodig met 'n vryskutbesigheid tot dié wat dalk net lus voel om 'n ander rigting met hul skryfwerk in te slaan, tot studente wat 'n basiese kursus soek voordat hulle universiteit toe gaan of 'n aspirant-skrywer wat 'n opinie of raad met 'n manuskrip wil hê - hier's beslis iets vir almal, met oorgenoeg ondersteuning.

'n Groot verskeidenheid sakpas skryfkursusse en bekostigbare aanlynslypskole word aangebied. Die kursusopleiding geskied deur middel van die internet en e-pos op 'n een-tot-een basis in jou eie tyd en in die gerief van jou eie huis.

Ons betaalopsies stel enigeen wat daarvan droom om 'n inkomste uit enige vorm van skryf te genereer - hetsy voltyds of deeltyds - in staat om dié drome dadelik te verwesenlik. Of, as jy sommer net vir ontspanning of die nageslag wil skryf, is daar ook genoeg kursusse en betaalmetodes om van te kies. Ons stel ook kursusse saam volgens spesifieke behoeftes.

Indien jy dalk net 'n sekere aspek van jou skryfwerk wil opknap het ons nét die blitskursus of spesiale verslag vir jou, en veral skrywers en joernaliste kan spesifieke kursusse van naderby beskou. Ons evalueer ook jou skryfwerk en help met redigering en kan jou selfs mentor om jou in staat te stel om 'n goeie manuskrip te lewer.

As jy jouself nie kan of wil verbind aan een-tot-een opleiding saam met 'n persoonlike opleier en verpligte werkopdragte nie, kan jy 'n selfstudiekursus uitsoek om jou volgens jou eie pas op jou skrywerspad te help - met dieselfde inligting.

Aangesien ons ook graag wil meehelp om skoliere en studente se akademiese skryfervarings so doeltreffend en aangenaam moontlik te maak bied ons kursusse wat spesifiek op dié groep gemik is, want na alles is hulle die skrywers van môre - en die oorlewing van Afrikaans in hul hande.

Uit eie ervaring weet ons ook dat skrywers reeds kleintyd ontwikkel, en met die oog hierop het ons 'n aantal kursusse net vir kinders beskikbaar sodat hulle reeds vroeg hul skryfvernuf kan vestig. Ons vertel ook meer omtrent loopbane in die skryfbedryf.

Omdat ons self ook professionele vryskutskrywers en -joernaliste is wat tussendeur steeds moet werk om die pot aan die kook te hou, bied ons 'n wye verskeidenheid professionele dienste - teen billike tariewe - aan enigiemand wat dit benodig. Die bewese ervaring en professionaliteit van ons vryskutskrywers waarborg die gehalte.

Vir 'n minimale maandelikse fooi kan jy nou toegang tot ons premium-inhoud verkry vir inligting wat nie so maklik elders te vinde is nie. Deur middel van dié afdeling kan jy ook deel word van ons vryskutnetwerk o m sodoende jou professionele blootstelling aan die mark te verhoog en meer werk te genereer.

Vir die weetgieriges is die mediamekka -afdeling ideaal om jou op alle vlakke van die skryfbedryf ingelig te hou en die kompetisie blad word gereeld bygewerk om jou in te lig oor enige Afrikaanse skryfkompetisies. Ons Facebook- boekrak bevat al die nuutste boekenuus om jou lees- en skryflus aan te wakker.

Ons vryskutgereedskapkis is gepak met noodsaaklike toerusting soos gratis idees in ons unieke i deesbank , inligting oor werksgeleenthede en selfs hulp met Engels as jy dalk sukkel om foutlose Engelse geskrifte neer te pen. Taalpuriste kan ook gerus gereeld by ons Taalghoeroe kers opsteek.

Net om seker te maak jy kry nie dalk te mín inligting nie, kan jy op ons GRATIS nuusbrief inteken en terselfdertyd 'n hele sak vol hulpbronne ontvang. Onthou ook om jou skryfvernuf  met ons skryfklub te toets.

O ja, en raak sommer vandag nog deel van ons groeiende vryskutskrywersgemeenskap deur by een of almal van ons sosiale netwerkblaaie en -groepe aan te sluit - ,en LinkedIn - en ondersteun gerus ons medewerkers .

Onthou ook om gereeld op ons blog te gaan kyk vir artikels en opinies wat slegs met die wêreld en bedryf van vryskutskryf in Suid-Afrika - en veral Afrikaans - te doen het. Ons YouTube -kanaal verskaf ook so af en toe vereenvoudigde skryfinligting om jou bedrywige lewe te vergemaklik.

In 'n neutedop: Ons probeer jou 'n lees- en skryfervaring bied wat jy nêrens op die web sal raakloop nie - en ALLES slegs in Afrikaans. So trek daardie koppie boeretroos nader, doop jou beskuit en sluit by ons aan...

Joernalistiek verskaf aan sy lesers die kans om 'n getuie van die geskiedenis te word;  fiksie gee sy lesers die geleentheid om dit te lééf.  ~ John Hersey

     Soek in SA Vryskutskrywer

Inligting

Sluit aan

Follow Us!

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: