Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


Rhona Scheepers

Rhona Scheepers se eerste boek, Pedale van Papier , was 'n wegholsukses. Die maak van 'n fliek van die boek is reeds aan die gang. Haar uitgewer, Naledi , reken Hartskeur , haar tweede boek, beskik ook oor al die elemente om 'n treffer te wees. Hoewel Rhona eerder haar sleutelbord die praatwerk laat doen, vertel sy hier 'n bietjie meer omtrent haarself en haar skryfwerk.

As onderwyseres is Rhona besig. Baie besig. Daarby het sy twee dogters grootgemaak. Albei is reeds getroud en sy is al die trotse ouma van ’n kleindogter. Tog maak sy tyd vir skryf, meestal snags en gedurende skoolvakansies. En miskien help dit as haar man meestal weg van die huis af werk ...

Skryf is vir haar harde werk omdat sy lank daaroor moet dink en baie navorsing moet doen. (Is dit waarom dat haar boeke so ’n sukses is?) Sy sê dat sy beslis nie so bevoorreg is dat woorde sommer moeiteloos uit haar vloei nie!

Sy vertel dat Hartskeur ’n boek met verskeie emosionele pyne is wat na die voorgrond kom, soos uit die titel afgelei kan word. Haar stories is op ware gebeure en werklike mense gegrond. Daarom kan lesers hulle maklik met die karakters en milieu identifiseer. Sy het bykans twee jaar aan Hartskeur gewerk. Haar storie-idees kom dus uit die werklikheid self.

Dit is meestal net sy en haar rekenaar in haar skryfplek, maar, sê sy, “Met die navorsing kom die deurmekaargeit. Ai tog!” Hierdie navorsing behels ook dat sy graag self na plekke ry en die betrokkenes self gaan sien. Met die perdefluisteraar moes sy byvoorbeeld Klein Karoo toe ry om die nodige inligting eerstehandste kon kry.

Haar eerste boek, Pedale van Papier , word reeds verfilm en dit is iets waarop sy baie trots is. Alhoewel sy nie direk met die maak van die fliek betrokke is nie, word haar insette wel in ag geneem. Sy is juis besig met die herskryf daarvan in ’n draaiboek. Die fliek behoort so oor ’n jaar in die teaters te draai.

Rhona is baie positief oor die toekoms van die Afrikaanse boek omdat daar genoeg lesers is en mense wat wil lees, wel sal lees.

Sy is ook reeds besig met ’n volgende boek.

As skrywer kan sy glad nie klaarkom sonder boeke, haar rekenaar en gebed nie. Self lees sy baie, en veral boeke van Isa Konrad.

Raad aan beginnerskrywers? “Moet nooit ophou na die eerste probeer nie. Probeer weer. Lees om te onthou. Maak vrede met kritiek.”

© 2016. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.


Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: