Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne

Finansies & besigheid


Wanneer jou kantoor by die huis is

    deur Leoni Benghiat

Op enige gegewe tydstip bedryf een uit elke ses Suid-Afrikaners hulle eie besigheid en 73% van dié besighede se hoofkantoor is ‘n tuiskantoor in ‘n huis, woonstel of skakelhuis.

Met so baie mense wat reeds hulle daaglikse brood by die huis verdien, sou ‘n mens reken dat diegene wat elke dag hulle agt ure arbeid in die baas se kantoor verrig meer simpatie met tuiswerkers sal hê as om gereeld te vra wanneer hulle dan weer ‘n “regte werk” gaan kry.

Doen gerus hierdie toets as iemand jou volgende keer vra wat se werk jy doen: Vertel hulle dat jy vanuit ’n tuiskantoor by die huis werk en die reaksie is deur die bank dieselfde: ‘Jou gelukkige mens!’ Dit word dan gevolg deur: ‘Hoe heerlik om nie ’n baas te hê nie!’ en ‘Dink net aan die pendeltyd wat jy vryspring!’ of ‘Jou tyd is altyd jou eie.’

Hoewel daar waarheid in bogenoemde steek is mense se idees oor tuiskantoorwerkers nie altyd in die kol nie en is daar steeds te veel wanopvattings.

Tuiskantoorwerkers kan dit gewoonlik nie bekostig om kantoorure te handhaaf nie. Die konsep van ‘agt uur per dag werk’ bestaan nie in ’n tuiskantoorwerker se woordeskat nie. Die werk moet klaarkom en dit beteken dat jy werk totdat alles klaar is – ongeag of dit 18 uur of meer duur. Gewoonlik word middagete en dikwels aandete sommer so in die hardloop genuttig, want die kantoor roep. Daar is dus geen sprake daarvan dat jy vyfuur smiddae jou kantoordeur toetrek en huis toe gaan nie.

Die uitlating dat ’n tuiskantoorwerker nie ’n baas het nie is baie ver van die waarheid, want jy is jou eie baas en daar is géén baas so veeleisend soos jyself nie.

Voorts is ’n mens se tyd nie werklik jou eie nie en vriende reken hulle kan sommer enige tyd vir tee by jou inval, want jy is mos jou eie baas, is buitendien by die huis en jou tyd is jou eie ...

Dit werk egter nie so nie want tuiswerkers kan in twee kategorieë verdeel word: diegene wat nie genoeg werk nie en diegene wat te veel werk.

Diegene wat nie genoeg werk nie, word vasgevang in die "huis"-aspek van die huiskantoor. Iets roep hulle altyd weg: ’n huilende baba, die wasgoed, ’n besoek aan die winkel, ’n pot op die stoof, TV-programme in die dag. Hulle gee toe aan die versoeking en doen nooit regtig ’n volle dag se werk nie.

En dan is daar die ander wat nooit van die “kantoor”-aspek kan ontsnap nie. Dit raak naderhand ‘n obsessie om soveel as moontlik te doen en sommer die hele 24 uur te werk as dit daarop neerkom.

Laasgenoemde is dié wat ysere selfdissipline het, wat besef dat daar niemand is wat oor hulle skouer loer om seker te maak die werk word gedoen nie. Hulle raak vasgevang in ‘n spiraal van presteer en kan nie verstaan waarom hulle gesinslede omgekrap raak omdat hulle selde uit die tuiskantoor kom.

Volgens ‘n internasionale vryskutskrywer en –opleier, Jenna Glatzer, is die oplossing vir beide tipes tuiskantoorwerkers eenvoudig. “Stel doelwitte,” is haar raad.

“As jy nie genoeg werk gedoen kry nie, stel ’n haalbare doelwit (skryf ’n nuwe persverklaring voor middagete, of maak vyf blinde werwingsoproepe voor die einde van die dag) en hou daarby, ongeag hoeveel fyn beplanning nodig is om jou lewe daarby aan te pas.

“En as jy te veel werk, stel dieselfde doelwit en hou dan op met werk. Skryf daardie persverklarings, of maak daardie oproepe, en staan dan op, strek en doen iets wat geensins werk behels nie,” sê sy.

Dekades se ondervinding het Jenna ook geleer dat gesondheidsonderbrekings net so belangrik is. “Jy moet perke stel,” sê sy. “Neem dae af, herontdek jou vriende, geniet die lewe. Anders, waarom werk jy? Onthou waarvoor jy werk en waarom jy gekies het om van die huis te werk.”

Dit verg ‘n baie toegewyde persoon om ‘n tuiskantoor suksesvol te kan bedryf. Daar is byvoorbeeld altyd afleidings om te oorkom soos onverwagse kuiertjies van vriende of familie wat reken jy het hope tyd tot jou beskikking want jy het mos nie ‘n “regte werk” nie.

Ook verkies telebemarkers om in die middel van die dag te bel en dikwels is hulle só goed opgelei dat jy vir tien minute nie ‘n woord kan inkry om te sê jy stel nie belang in wat hulle ookal aan jou wil verkoop nie. Maar tien minute is genoeg tyd om minstens drie belangrike e-posse in te beantwoord en as jy met drie telebemarkers per dag spook, beteken dit dat daar minstens 30 minute van jou kosbare tyd verspil word.

En moenie vergeet van mense wat tydig en ontydig opdaag om net gou ‘n gunsie te kom bedel nie. Hulle dink ook blykbaar dat jy die wêreld se tyd het omdat jy mos nie regtig werk nie.

Vertel hulle duidelik en beslis dat jou besigheid jou enigste bron van inkomste is en as jy nie werk nie, kan jy dus nie geld verdien nie. Benadruk dit dat jy as gevolg daarvan nie gewone kantoorure handhaaf nie, en dat jy hulle sal laat weet wanneer jy beskikbaar is.

Net so is dit belangrik om jou familie te laat verstaan dat, hoewel jy bedags tuis is, jy nie enige tyd beskikbaar is nie. Veral kinders kan nogal verward raak hieroor, en daarom is dit nodig om ‘n paar basiese reëls daar te stel waarby die hele huisgesin moet inval. Laat hulle verstaan dat jou werkure slegs vir werk is en dat jy verwag om nie deur enigiemand gesteur te word nie.

Een van die moeilikste aspekte van ‘n tuiskantoor is dat die skeidslyn tussen jou werk- en privaatlewe al hoe dunner raak – todat dit naderhand onsigbaar word. Dit is dus noodsaaklik dat jy grense stel vir jouself én ander mense. Jou besigheid se sukses en oorlewing hang daarvan af.

Dit is belangrik om ‘n werkskedule uit te werk en daarby te hou. Aanvanklik sal dit steeds ‘n uitdaging wees om nie persoonlike oproepe tydens jou werksure te maak of besigheid ná ure te wil doen nie. Dit sal die persepsie verstewig dat jy nie elke dag tuis bly net om gunsies of takies vir ander te doen nie. En selfs al kom familie altyd eerste, is dit nodig dat jy getrou bly aan jou werksure en die versoeking weerstaan om saam met vriende te gaan koffie drink of jou weeklikse inkopies tydens werksure te doen.

Leer jou vriende reg want dis natuurlik dat diegene wat nie voltyds werk nie sal reken jy is altyd beskikbaar vir ‘n kuiertjie omdat jy daagliks tuis is. Verduidelik ferm dat jou werkure presies net vir werk is. Los jou persoonlike oproepe of kuiertjies vir na werk. Jou vriende sal mettertyd jou werkskedule aanvaar sonder om beledig te voel as jy ‘n uitnodiging vir koffie van die hand wys.

Onthou egter dat jy nie verplig is om dieselfde werkskedule as die res van die wêreld te handhaaf nie. Een van die belangrikste voordele van ‘n tuiskantoor en jou eie besigheid is juis dat jy jou ure só kan bepaal dat dit vir jóú voordelig is. Jy weet byvoorbeeld watter tyd van die dag jy op jou produktiefste is. Werk jou ure daarvolgens uit.

Sommige mense is meer produktief teen sonop, terwyl ander regte naguile is wat verkies om die moeilikste werk te doen wanneer die huismense reeds bed toe is. Baie tuiskantoorwerkers reël hulle werkskedules só dat hulle in die oggend werk, ‘n paar ure in die middag afvat wanneer die kinders van die skool af kom en dan weer saans werk.

Nóg ‘n voordeel daarvan om jou werkskedule rondom jou liggaam se natuurlike ritme aan te pas is dat jy take vinniger, makliker en beter sal afhandel as wanneer jy dieselfde rigiede werksure as kantoorwerkers probeer handhaaf.

As dit enigsins moontlik is moet jy probeer om jou tuiskantoor van die res van julle huis te skei. Indien jy nie die luukse van ‘n aparte vertrek of studeerkamer het nie, kan jy ‘n afskorting gebruik om privaatheid te verleen. Die feit dat jou tuiskantoor apart van die res van die huis staan, sal ook ‘n visuele aanduiding vir jou gesin wees dat jy besig is met werk en dus nie gesteur moet word nie.

Raak georganiseerd

Tracey Foulkes, uitvoerende bestuurder van Get Organised! , ‘n besigheid wat individue en maatskappye leer hoe om orde uit wanorde te skep, sê lyste is die enigste onfeilbare manier om in ‘n besige dag alles wat jy moet doen, te probeer onthou.

Volgens haar het jy twee lyste nodig – ‘n meesterlys en ‘n “om te doen”-lysie. Hier’s hoe hulle werk:

Meesterlys

  • Hierdie is die mees basiese vorm van ‘n lys omdat dit in werklikheid ‘n aaneenlopende lys van take is wat jy moet afhandel.

  • Werk slegs met EEN lopende lys op ‘n keer.

  • Moenie nommers aan take toeken nie.

  • Prioritiseer die take op jou lys vanaf onbenullig tot die heel belangrikste.

  • Merk elke afgehandelde taak af.

  • As minstens 60% van jou take afgehandel is, moet jy die res na ‘n nuwe meesterlys oordra.

Om te doen-lysie

  • Hierdie lys is vir ‘n spesifieke dag se take.

  • Skep ‘n lys in jou dagboek deur van die take op jou meesterlys daarheen te verskuif.

  • Kies ‘n maksimum van drie hoë en twee medium prioriteitaktiwiteite uit jou meesterlys. As enige van hierdie take nie op die spesifieke dag afgehandel kan word nie, moet hulle na die volgende dag se lysie oorgedra word.

  • Werk uit hoe lank ‘n spesifieke taak veronderstel is om te duur. Verdubbel dié tyd om ‘n meer realistiese spertyd daar te stel.

  • Begin eerste by jou hoë prioriteitstake.

  • Merk elke taak af nadat dit voltooi is.

- Bron: © SA Vryskutskrywer

Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: