Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne

Finansies & besigheid


Resep vir suksesvolle vryskutwerk

deur Leoni Benghiat

Op enige gegewe oomblik is daar meer as ‘n 100 miljoen mense dwarsdeur die wêreld wat vryskut werk. En as jy hierdie nuusbrief lees, is jy ook een van hulle. Maar om ‘n sukses as vryskut te kan maak, verg nogal heelwat omdat jy nie meer ‘n baas of maatskappy het om aan verantwoording te doen nie. Jy het net jouself en glo my, jy is jou heel ergste nagmerrie as ‘n baas! 'n Suksesvolle vryskut hou nooit op leer nie. En ek dink die definisie van sukses bly 'n kwessie van perspektief, so ek deel graag van die wenke wat ek deur die 30 jaar wat ek al vryskut werk, langs die pad opgetel het.

Vryskut is dalk een van die beste besluite wat ek ooit geneem het, hoewel dit oorspronklik deur nood gebore is. Maar ek hou van die buigsaamheid, onafhanklikheid en beheer wat ek het oor die moeite wat ek doen en die uitkoms van al daardie moeite. Maar voordat jy dink dit klink dalk nes die Paradys – daar is heelwat landmyne en hindernisse in jou pad. En wanneer jy vir jouself werk, dra jy die las van enige slegte besluit of fout – daar’s niemand anders om die skuld voor te gee nie. So, hier is net 'n paar dinge wat ek eerstehands geleer het:

1. Moenie te goedkoop wees nie Ja, ek verstaan jy het werk nodig en jou fooie moet só wees dat jy stof in jou mededingers se oë skop om die kontrak te kan kry, maar jy móét aan jouself ook dink. Dit help nie om ‘n werk wat weke neem teen ‘n hongerloon te doen nie. Dit ondermyn jou vermoëns as ‘n vryskut en jy gaan jou morsdood werk en die eens genoeg geld inkry om die maand se water en ligte te kan betaal nie. As jy ‘n beginner is, doen eers deeglik navorsing; vind uit by kenners of ervare vryskutters en – belangrikste van alles – erken self die waarde van jou werk. ‘n Dokter wat sewe jaar lank studeer het gaan nie sy dienste vir ‘n appel en ei verkwansel nie – dit sal ‘n belediging vir sy studie, kennis en ondervinding wees. Net so ook met jou: jy het self ‘n hele klomp jaar op universiteit of kollege bestee om jou skryf- of redigeringsambag te vervolmaak. Daarna het jy jou “ambag” met harde werk vervolmaak. Jy verdien dus die beloning wat jou talente en dienste toekom. Jy sal wel taamlik gou agterkom of jou tariewe werklik te hoog is en of dit nommerpas is.

Kry 'n tariewedokument hier.

2. Doen dit reg As jy die groot sprong na vryskut geneem het – hetsy vrywillig of weens afleggings daarin gestamp is – moet jy seker maak jy bied iets van gehalte aan voornemende kliënte. Dit sal beteken jy moet eers ervaring opdoen in jou gekose veld (indien jy ‘n rou groentjie is). As jy egter reeds ‘n ervare skrywer of redigeerder is, moet jy buitendien ook eers deeglik navorsing doen om vas te stel hoe en waar om jou dienste te verkoop. Ek het al soveel navrae ontvang van beginners in die vryskutmark wat hulself aan voornemende kliënte wil bekendstel, maar ai, hul e-posse is dikwels besaai met swak grammatika en spelling. Ek kan dan mos nie met ‘n skoon gewete hulle iewers aanbeveel nie. Dit is dus uiters noodsaaklik om selfs net ‘n gewone e-pos deur te werk sodat dit foutloos is voordat jy dit iewers heen stuur. Onthou dat enige werksgerigte e-pos soos jou visitekaartjie is.

Oorweeg ‘n verfrisserskursus in proeflees om jou vaardighede op te skerp.

3. Roetine Met geen baas of opsigter wat oor jou skouer loer nie, lyk dit baie aanloklik om sommer in jou slaapklere te sit en werk. Of anders in die bed te lê met jou skootrekenaar half skuins voor jou. Werk is mos werk, nie waar nie? O nee, beslis nie. ‘n Suksesvolle vryskut hou by ‘n daaglikse roetine wat begin met ‘n skoon gewaste gesiggie, normale kleredrag en netjiese hare en 'n formele werkspasie. ‘n Georganiseerde werksopset kry jou gedagtes aan die gang en steek 'n vuurtjie onder jou aan om doeltreffendheid te bevorder.

Gaan steek hier kers op in verband met ‘n georganiseerde tuiskantoor.

4. Wees gereed om te wérk Vryskut is nie 'n maklike alternatief vir 'n 'regte werk' nie. Dit verg dikwels meer moeite en toewyding, want daar is geen salaris as daar nie werk is nie. Daar is druk om binne jou tuiswêreld te presteer wat beteken dat daar geen formele aftyd is nie. Jy sal waarskynlik vind dat jy dit terug na die rekenaar waag wanneer die kinders gaan slaap het of vroeg opstaan en 'n uur of twee inglip voordat die gewone daaglikse aktiwiteite begin.

Lees bietjie meer oor vryskutwerksure.

Vryskutwenke vir beginners

  • Stuur 'n e-pos aan al jou toepaslike kontakte sowat ‘n maand voordat jy by die vryskutpoel gaan inspring. Vertel hulle van jou voorneme om te vryskut en noem dat jy dadelik nuwe projekte as vryskut sal kan aanpak. Dit kan dalk tot 'n paar onmiddellike moontlikhede lei.

  • Hou aan om te netwerk. Sluit aan by groepe en forums, reik uit na nuwe kontakte en hervestig kontak met oues.

  • Maak seker dat al jou kommunikasie en skryfbehoeftes professioneel is – dit sluit ontwerp en inhoud in. Moenie voornemende kliënte probeer oortuig met standaard materiaal wat onprofessioneel lyk nie.

  • Gebruik sosiale media om jou handelsmerk te bou. Facebook, LinkedIn, Twitter, Pinterest en Instagram is handige hulpmiddels. Moenie jou professionele bladsye aan jou persoonlike profiel koppel nie. Hou dit apart – dis meer professioneel.

  • Hou jouself gefokus met ‘n persoonlike plan van aksie, sowel as 'n sakeplan.

  • Hou tred met jou mededingers en wat hulle aanbied. Dit beteken om op een of ander manier met hulle te verbind. Netwerk met hulle om op hoogte te bly. En bly dan een stappie voor.

  • Behandel almal ewe goed. Moet nooit aan die versoeking toegee om sarkasties, neerbuigend, of onbeskof te wees nie. Selfs nie wanneer jy só goed doen dat jy eintlik nie die besigheid nodig het nie. Behandel mense altyd vriendelik.

  • Neem tyd af en doen ‘n paar dinge wat jy regtig wil doen. Geniet 'n oggend in ‘n koffiewinkel of neem 'n dag af om na jou gunsteling TV-reeks te kyk. Doen iets wat jou siel voed sodat jy nie begin uitbrand nie. Niks sal jou passie vinniger blus as dat jy begin voel jy is besig om jouself te verloor nie.

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: