Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


Wilnetta van reenen

• Hoekom het jy Ragel Petoors geskryf? Waar het die idee ontstaan?

Ek móés net. Ragel het my geroep om haar storie te vertel en ander se onkunde oor sulke dinge reg te stel. Dit was nodig om sulke dinge wat gewoonlik agter geslote deure of ‘n hand gesê te word in die oopte te kry sodat mense kan vers táán.

• Hoe lank het dit geneem vanaf die konsep tot die einde?

Ek het lank aan Ragel geskryf, want daar was ‘n taamlike kompetisie tussen haar en my. Ek wou haar storie op mý manier vertel, maar sy het vasgeskop dat dit volgens haar ervarings vertel moet word. Ragel het gewen.

• Hoe het jy gevoel toe jy die eerste kopie van jou boek in jou hande vasgehou het?

Dis eintlik ‘n gevoel wat ‘n mens nie kan verduidelik nie. Dit was iets tussen lag en huil. Ek we et nie eintlik nie, maar dit was verskriklik lekker.

• Watter aspek van die skryfproses was die moeilikste vir jou?

Om die manuskrip af te rond en oop te maak vir die hele wêreld om ‘n kykie in my lewe te kry.

• Ragel lees moeiteloos, asof jy eintlik al die jare nog skryf. Is dit so?

Ja, nogal. Ek het ‘n media agtergrond, so vanselfsprekend het ek van jongs af al professioneel geskryf, maar ek het buitendien ‘n voorliefde vir woorde en gebruik graag skryfwerk as ‘n manier om te ontlaai.

• Beplan jy dalk ‘n opvolg op Ragel?

Ek weet nie. Ek dink nog daaroor. Dalk sal ek probeer. Mens weet nooit wat die toekoms inhou nie, maar ‘n tweede Ragel-vertelling sal hierdie keer vanuit ‘n hele ander hoek plaasvind. Ek reken Ragel moet die lesers hierdie keer op ‘n ander manier oorrompel.

• Jy het ook ‘n groot belangstelling in digkuns wat verlede jaar tot die publikasie van jou eerste digbundel, Pampoene in die voortuin, gelei het. Is daar nog digbundels wat die lig gaan sien?

Miskien. Ek dink ek kan dalk hierdie jaar genoeg materiaal versamel vir ‘n tweede bundel. Ek gaan in elk geval probeer.

• Hoeveel van jou skryfwerk is gebaseer op jou eie ervarings?

Die meeste wat ek te vertelle het is maar gebaseer op wat ek self ervaar of gesien het, maar ek moet erken dis mense se in-te wat my regtig fassineer en laat skryf.

• Watter wenke het jy oor publikasie?

Skryf, skryf en skryf oor. Delete die meeste en skryf dit weer oor. Sit op jou stoel en skryf met erns. As dit die eerste keer nie werk nie, probeer weer. Moet nooit ophou probeer nie. Iewers gaan jy die goue middeweg raakskryf. Hê net genoeg geduld om aan te hou. Nee, eintlik BAIE geduld. En dan nog sommer nóg geduld. Dis ‘n lang proses en as jy haastig is sal jy beslis teleurgesteld wees.

• Watter aspek van die publikasieproses was vir jou die moeilikste?

Om vir die duur van die lang proses positief te bly en na jou mentor se bemoediging te luister en dit aan te gryp.

• Wat is die belangrikste skryfwenk wat jy al ooit gekry het?

Skryf, herskryf en snoei dan tot op die been. En: “Respekteer die mense wat jy met jou skryfpogings opsaal.”

• Daar is baie mense wat graag wil skryf. Enige raad vir aspirantskrywers?

As jy nie baie lees nie, sal jy nooit regtig kan skryf nie. Ongelukkig is my korttermyngeheue van so ‘n aard dat die stories verloor, my plek, my tyd, my alles, maar ek lees steeds soveel ek kan. En, belangrikste: Loop gaan sit op jou sitvlak en probeer. As jy nie minstens probeer nie, gaan jy mos nie weet of jy iets kan regkry nie. Net so met skryfwerk. As jy nie probeer om ‘n boek te skryf of ‘n storie te vertel nie, gaan jy nooit weet of jy nie dalk ‘n skrywer is nie.

• Het jy ‘n lewensleuse?

Maak self van ‘n situasie ‘n okkasie, anders gaan jy dalk dood sonder om ‘n enkele okkasie te beleef.

• Wat maak jou gelukkig – wat nie met skryf te doen het nie. Wat lê jou baie na aan die hart?

My kinners en my honde. Hulle is my álles.

• Enige stokperdjies?

Kaaskoek eet. Die lewe sou baie armer gewees het sonder kaaskoek. En ek hekel baie.

• Wat was tot dusver jou grootste prestasie as skrywer?

Ragel en my gedigte. (Klik hieronder om volledige resensie te lees.)

• Wat is daar omtrent jou wat jou lesers sal verstom? Iets wat niemand weet nie.

Baie. Ek is stokkerig, voel ek kan nie vertel van iets wat ek nog nooit gesien of gevoel het nie.

• Het jy van kleins af geweet jy wil skryf?

Ja, maar nooit erkenning gekry nie.

• Bereik jy ooit ‘n dooie punt in ‘n manuskrip, of ‘n plek waar die karakters hulle nou vasgedraai het en nie weet hoe om daar uit te kom nie – en wat maak jy dan?

Hang af van die onderwerp, meestal, maar as die karakters  nie wil saamspeel nie, is dit ‘n goeie idee om hulle aan te keer of nuwe bloed by te sit.

© 2022. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.


Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: