Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


rachelle du bois

1. Wanneer en waarom het jy begin skryf?
Ek het my eerste boek in Augustus, 2013 geskryf, omdat ek gevoel het die tyd is ryp daarvoor. Ek het van my kinderjare af letterlik honderde boeke gelees en die begeerte om self ? boek te skryf, was maar altyd daar. Dit het egter behoorlik posgevat toe ek afgetree het met genoeg tyd op hande.

2. Hoe skryf jy? Party skrywers is gelukkig genoeg om net te gaan sit en dan vloei die woorde moeiteloos. Is jy ook so bevoorreg? Ek hou daarvan om met ? raamwerk te begin waarin die karakters se agtergrondinligting bedink en beskryf word. Hierdie inligting dien net as ? verwysing dwarsdeur die boek, maar die storie loop van daar af self verder. Die karakters ontwikkel en doen soms dinge wat die skrywer verbaas, want hulle word lewendig en tree op soos hulle groei en soos die storie vorder.

3. Hoeveel boeke het jy al geskryf? Watter is jou gunstelinge? Waarom? Watter een was jou eerste? Voel jy jy ontwikkel as skrywer met elke boek?
Ek het reeds 16 boeke geskryf, waarvan 13 in Afrikaans, en drie in Engels is. Elke boek het maar sy eie plek, van die wankelende treë van my eerste poging af tot die gemaklike en ratse vloei van die nuutste boek.
My eerste boek was Beskuldig dan die Liefde. As ek my eerste werke vergelyk met my latere boeke kan ek duidelik agterkom dat ek as skrywer baie gegroei het. Ek het die vreeslike styfheid en onnatuurlike styl agtergelaat. Ek skryf nou gemakliker, meer ongebonde en laat die stories hul loop neem. Ek glo ek het my eie stem gevind en voel baie goed daaroor.

4. Watter genre verkies jy? Hoekom?
Ek verkies die romantiese ontspanningsfiksie, spesifiek die liefdesroman, omdat dit oor die lewe gaan; oor mense se wel en weë. Anders as met romanse, kan ek in die liefdesroman meer as een karakter se perspektief gebruik, hulle laat groei en ontwikkel. Hulle leef, het lief, hulle lag, huil en verloor, maar staan altyd weer op. Hulle is aan die einde van die boek anders as wat hulle aan die begin van die storie was. Dit gaan dus nie net om die ontwikkeling van ? verhouding tussen die heldin en haar held nie. En buitendien is dit lekker om oor die liefde te skryf.

Skat van die Seerower is ’n historiese roman vir tieners (en vir dié wat voel soos tieners, maar nie is nie). Ek sal dit weer waag.
Na my twaalfde liefdesroman - Die Lady en die Leeu – het ek gevoel om iets anders te doen en het my hand gewaag aan twee fantasieverhale, Die Vita Faktor en Die Lucerna Faktor. Praat van pret! Ek sal die reeks beslis uitbou.

5. Hoeveel ware gebeure kom in jou stories voor? En werklike mense?
Ek baseer my stories op die lewe, waarin soortgelyke gebeure voorkom as dit waaroor ek skryf – dinge wat ek gesien en van gehoor het. Ons almal het tog lief en verloor soms, almal word siek en gaan dood, almal vind soms geluk en treur soms. My stories is denkbeeldig met denkbeeldige karakters en omgewings. Daar is geen werklike karakters of plekke in my stories nie – dis pure fiksie.

6. Hoe lyk jou skryfplek?
Ek het vir my ? skryfplek ingerig waar ek gemaklik kan sit en skryf. My skryftafel bevat my hulpmiddels soos die HAT, die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, en Die Afrikaanse Skryfgids. Die Oxford Dictionary en nog ander handleidings oor die skryf van boeke, spesifiek romanse, staan sy aan sy met die ander.

7. Wanneer skryf jy? Skryf jy voltyds? Indien wel, wanneer het jy voltyds begin skryf?
Ek skryf voltyds en elke dag van 2014 af. Ek sorg dat ek by my teiken vir die dag hou. Ek begin elke oggend ongeveer nege uur en ek is gelukkig genoeg om te kan skryf vir so lank as wat ek wil en soveel as wat ek wil.

8. Omtrent hoe lank neem dit jou om ? boek te skryf?

Op een stadium het ek een boek elke dertig dae (soms vinniger) voltooi. Mens kan maar somme maak: 16 boeke van Augustus, 2013 af. Ek het my nuutste boek, Tuiste vir my Hart, op 11 Julie 2016 begin en binne twee weke voltooi.

9. Hoe voel dit om die finale produk in jou hand te hou, of, as dit slegs e-boeke is, ondervind jy ? gevoel van genoegdoening wanneer jy jou boeke in virtuele boekwinkels sien? Elke nuwe boek is ? geskenk – aan my lesers en aan myself. Ek is so dankbaar en tevrede omdat ek kon doen wat ek my voorgeneem het om te doen. Om die boek daar te sien pryk, is vir my ? bewys dat ek kan. Dis my droom wat waar geword het.

10. Hoe voel jy oor die toekoms van Afrikaanse boeke? Is daar plek om te groei of dink jy dis nou stagnant? Ek sien ? blink toekoms vir Afrikaanse boeke. Ek glo die lesersmark groei steeds. Dit wil vir my voorkom asof meer mense nou Afrikaans lees as ooit tevore. Meer mense skryf in Afrikaans en daar word baie goeie werk gelewer. Daar is ? groot behoefte onder Afrikaanssprekendes om hul werk daar te kry waar ander dit kan lees. Die mark vir e-boeke is egter erg geraak deur die sluit van Takealot, Leserskring, Leisure Books, Kwarts, myAfrikaans, en Afrifiksie se e-boekplatvorms. Dit laat onafhanklike skrywers en self-uitgewers van e-boeke met slegs Amazon.com waarop e-boeke verkoop kan word.

11. Waaraan werk jy op die oomblik? Ek werk tans aan Doepa vir my Hart, die derde boek in die Fynbos-reeks.

12. Skryf jy slegs enkelstaande boeke of is daar boeke wat deel is van ? reeks? Hoe vergelyk dit om ? enkelstaande boek te skryf teenoor ? reeks wat uit verskeie boeke bestaan? Ek het reeds drie reekse geskryf. My eerste reeks het bestaan uit twee Engelse boeke, The Road to Eden en Oak Seed. Dit was deel van die Oak Seed-reeks. Daarna het ek die Faktor-reeks geskryf wat op hierdie stadium twee fantasieë insluit – Die Vita Faktor en Die Lucerna Faktor. Ek het Kwiksilwer geskryf en aan die einde daarvan besluit om dit die eerste boek in die Fynbos-reeks te maak, want die boek het die grond voorberei vir ? reeks al het ek dit aan die begin daarvan nie beplan nie. Daarna het Tuiste vir my Hart, Boek 2 in die Fynbos-reeks, gevolg.

Anders as met ? alleenstaande boek, moet die skrywer in gedagte hou dat die storie in ? reeks na die volgende boek moet lei. Daar moet dus baie noukeurig rekord gehou word van die karakters en die agtergrond waarteen elke boek afspeel. Die volgende boek tel die drade van die een voor hom op en bou voort op die lewens van die karakters wat in die voorafgaande boeke voorgekom het. Daar moet ? deurlopende lyn wees wat die reeks aanmekaar verbind hou, al kan mens die boeke afsonderlik lees. Ek sorg maar dat die einde van die een boek die leser prikkel om die volgende een ook te lees.

13. As ? skrywer ... waarsonder kan jy glad nie klaarkom nie?
Ruimte vir myself en stilte om te dink, my skootrekenaar, tyd vir skryf en my naslaanboeke. En sonder ander boeke om te lees, kan ek glad nie.

14. Wat wil jy graag skryf waaraan jy nog nie jou hand gewaag het nie?
Daar het reeds ? saadjie vir ? misdaadstorie begin ontkiem. Wie weet wat wag na die Fynbos-reeks?

15. Lees jy baie? Wat lees jy?
Ek lees gemiddeld een boek elke twee dae, meestal laatmiddag en saans. Ek lees outobiografieë, biografieë, romanse, misdaadfiksie en fantasie in Afrikaans en Engels en die nuus op MSN en Media24. Ek is ook baie lief vir poësie. Ek is ? hongerige leser en sal enigiets verslind wat vir my interessant lyk. Ek is egter baie kieskeurig en kan maklik ? boek wat swak geskryf is, eenkant sit.

16. Wat se raad het jy vir beginnerskrywers?
Ek kan die belangrikheid van lees nie genoeg beklemtoon nie. Geen mens kan hoop om ? leesbare boek te skryf as jy nie lees nie. Jy mag miskien die storie in jou kop en die begeerte in jou hart hê, maar as jy nie eers ander skrywers se werk gelees het in die genre waarin jy wil skryf nie, sal jou boek nooit die winkelrakke sien nie. Daar is baie goeie boeke oor hoe om te skryf. Maak ? punt daarvan om te leer hoe en dan jou kennis toe te pas. Onthou dat jy eers moet kruip voor jy kan loop. Lees is die heel eerste tree vorentoe. Min skrywers behaal sukses met hul eerste pogings. Wees dus bereid om aan te hou probeer.

Ek is verbaas om te sien hoeveel foute in baie bekende skrywers se boeke voorkom. Dit is vir enige skrywer en veral vir self-uitgewers uiters belangrik om, as dit vir jou moontlik is, jou manuskrip te laat redigeer en proeflees. As jou boek swak geskryf en vol foute is, gaan jy nie die mas opkom nie.

Moenie dink jy gaan ryk word uit jou skryfwerk nie, veral as jy jou boeke self gaan publiseer. Jou sukses as skrywer hang af van die kwaliteit van jou skryfwerk en suksesvolle bemarking, wat miskien die heel moeilikste ding is om te doen, veral as jou begroting ter sprake kom.

Die heel belangrikste is egter om dit te geniet. Om te skryf is ’n heerlike avontuur en wie weet waar jou stories jou heen lei.

© 2017. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.


Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: