Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunstelingskrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


Elsabé Welman

Met agt gepubliseerde boeke op haar kerfstok en nog vele in haar kop, vertel Elsabé Welman hier per e-pos hoe haar skryfwerk tot stand gekom het en waarom sy selfpublikasie bo hoofstroomuitgewers verkies.

Kom ons begin by die begin: Wanneer en hoekom het jy begin skryf? In Junie 2014 het ons deur ? rowwe tyd gegaan. Ek wou ontsnap daarvan en het begin tik aan ? mooi (onrealistiese!) storie met oulike karakters (geen foute – ha-ha). Dit was bedoel om net ? vinnige ontsnap te wees. Maar my vingers wou nie stop nie, en meer verhale het daarna gevolg. Na my sewende manuskrip het my man en ’n vriendin my oorreed om ’n manuskrip in te stuur.

Wat was jou heel eerste publikasiesukses? Ryk Armgat , ongelukkig deur ’n onervare publiseerder wat nie meer bestaan nie. Na ’n paar publikasies elders, het ek besef Ryk Armgat is nie op standaard nie, maar ek wou die storie en karakters nie verloor nie. Ek het dit verwerk, bygevoeg, uitgehaal – en ’n tweede weergawe gepubliseer (en ’n reeks daarvan gemaak) waarop ek nou baie trots is.

Hoeveel boeke het jy reeds agter jou naam? Die agste boek, Filtervlinder , is op 21 Februarie 2024 vrygestel.

Waar kry jy idees vir stories? Die goed pop op in mens se kop, en dan voeg ek dit so gou moontlik by in ‘n lêer: Storie-idees. Dit gebeur wanneer ek luister na mense en hulle dinge. Ander kere staar ek na die landskap terwyl ons ry, sien ‘n plaashuis of berge, dan wil ek ‘n storie daar laat plaasvind. Ek skryf nagmerries neer. Dit het al meermale gebeur dat ek besig is met ‘n boek, dan is die volgende storie-idee daar. Wanneer ek ‘n kortverhaal of roman wil skryf, hardloop ek na hierdie lêertjie toe. Soms gebruik ek hom, soms druk ‘n neergepende idee my in heel ‘n ander rigting in.

Ek neem aan jy skryf voltyds. Wat het jy gedoen voordat jy voltyds begin skryf het? As gevolg van my man se beroep, het ons amper elke 6-9 jaar verhuis. Ek het beroepe gevolg soos wat dit beskikbaar was waar ons ons begewe het; onderwys, sekretarieel, logistiek, akkommodasiebedryf, eienaar van ’n trofee-winkel… en sedert 2021 is ek ‘n voltydse skrywer!

Beplan jy skryfwerk of skryf jy sommer uit die vuis? Indien beplan, hoe beplan jy? Ek beplan eers die breë trekke op ’n stuk papier. Pyltjies heen en weer, ’n propperse gekrap. Nie dat dit die eindproduk is nie, maar ek weet dan waarheen ek werk. Daarna doen ek die hoofkarakters se karakterkaarte, breedvoerig. Dis soos om jou eie twee mense en hulle lewens te skep. Die subkarakters volg dan, nie in soveel detail nie. Dis belangrik dat elke karakter uitstaan in terme van voorkoms, dialoog, persoonlikheid, ens. Daarna begin ek skryf. Dit is die lekkerste van die hele proses. Tik, tik, tik. Foute word later reggemaak, selfredigering vind nóg later plaas.

Hoe skryf jy? Het jy enige rituele of musiek waarna jy luister? Of enigiets wat jou dalk kan help om makliker te skryf? Het jy ‘n spesiale skryfhoek of ‘n studeerkamer? Geen rituele en geen musiek. Ek kan in ’n geselskap skryf en almal om my uitblok. Maar dit frustreer my as my storie en vingers loop en iemand stap in en eis my aandag. Ek’s gelukkig om my eie werkskamer te hê; ’n lessenaar vir skryf, ’n stasie vir skilder en plek vir my naaimasjien.

Beide jou pa en ma is onlangs oorlede. Hoe het hierdie geweldige persoonlike verlies jou kreatiwiteit geraak? Jô, dit was ’n ding. Hulle agteruitgang het oor nege maande gestrek tot met hul afsterwe in November 2023 (98 en 91 jaar onderskeidelik). Die skryf gedurende die jaar was moeilik, met ’n kop wat sukkel om te fokus. Ek het myself daagliks bederf om iets te skryf, al was dit net ‘n paragraaf, want dis my sielskos. Dus het die skryf nie heeltemal tot stilstand gekom nie. Na hul afsterwe het energie, motivering en kreatiwiteit ontbreek, en ek het dit aan myself gegun om af te vat. Vanaf die nuwe jaar is ek weer goed op dreef!

Jou jongste boek, Filtervlinder , is die laaste in jou Berg-broers-trilogie. Hoe op aarde skryf mens ‘n trilogie, want elke nuwe boek moet geloofwaardig op die vorige een volg. Dit is dan eintlik een ellelange storie. Hoe het jy dit reggekry? Die Berg-broers is’n familie-reeks. Die maklike deel daarvan is dat jy jou karakters het, maar elke boek het nie noodwendig dieselfde hoofkarakters nie. Karakterkaarte speel ’n groot rol, want een karakter se woordeskat/voorkoms/persoonlikheid moet deurgaans dieselfde bly. Die moeiliker deel is dat elke boek ook onafhanklik moet staan van die ander in die reeks. Dus moet jy al die subkarakters weer bekendstel aan die leser. Ek moes ook kophou met die tydlyn, want die karakters word ook ouer en omstandighede verander. Ek het lief geword vir hulle, die karakters word familie. Hoe kry mens dit reg? Beplanning!

Sal jy weer ‘n reeks skryf of is die Berg-broers tegelykertyd jou magnus opus én swanesang wat dit betref? Reekse is beslis in my beplanning vir die toekoms. Die Berg-broers het goed gewerk. Ek het alreeds ’n volgende reeks in my kop. Speurroman. Kan nie wag om daarmee te begin nie.

Kan ‘n skrywer enigsins geld maak uit skryfwerk? Ugh, wat ’n vraag! Nie almal is JK Rowlings en Deon Meyers nie, en dit moet skrywers weet. Maar selfs hulle was beginners. Dit neem ook tyd en ’n paar boeke op die rak om raakgesien en gelees te word. ’n Skrywersvriendin het my destyds gemotiveer en gesê ek moet so gou moontlik vyf boeke gelyktydig op Amazon kry,een dan gaan dinge verander. Dit was toe so en stadigaan verhoog die tantieme indien jy meer verkoop. Ek probeer my uitgawes met my eerste besending sagtebande dek. Daarna is die e-boekverkope en sagtebande wins. Dus: JA, jy kan geld maak, maar dit neem tyd, geduld en gereelde publikasies. Dan die groot MAAR: bemarking. Al publiseer jy deur ’n tradisionele uitgewer, moet jy steeds bemark. Niks val sommer in jou skoot nie. Bekende skrywers se boeke verkoop op grond van hul naam. Ons outjies moet baie bemark en jou advertensies moet aandag trek. Jou voorblaaie moet goed lyk.

Hoe voel jy oor selfpublikasie? Verkies jy dit bo hoofstroomuitgewers? My ervaring met hoofstroomuitgewers was nie goed nie. Agt maande se wag voor die uitgewer laat weet het hulle aanvaar die manuskrip, maar klein veranderings is nodig, wat ek binne twee weke teruggestuur het. Na 14 maande vra hulle dat ek al die karakters moet vervang en die storielyn moet verander. Huh? Ja, dit was my antwoord. ’n Hele jaar en ek moet voor begin! Ek het die einste boek binne drie maande self gepubliseer, met al die korrekte stappe waaronder professionele redigering en ’n netjiesee omslag. En hy het goed verkoop! Verkoop nog steeds goed op Amazon (was ‘n #1 topverkoper en het gereeld bo aan die lys gekuier). Ek noem dit nie om te spog nie. Eintlik moet ek dankie sê vir hierdie en ander antwoorde soos, “Ons publiseer tans net bekende skrywers se werk.” Dit het my in die selfpubliseringswêreld ingedruk, want ek en ander het geglo in my skryfwerk. Ek het by mede-Indieskrywers geleer en ken elke stap in publisering. In dié stadium betaal ek slegs vir enkele dienste, onder andere die omslag, ’n professionele redigeerder en ’n drukker. Met elke boek toets ek die mark vir beter kwotasies, maar ek weet al wie doen kwaliteitwerk. Ek het beta-lesers wat help. Ek formateer die geredigeerde werk self na e-boek en gedrukte formaat. Ek publiseer self op Amazon en elders. Ek bemark self. Ek beheer die hele proses. En die beste van alles, ek hoef nie maande of ’n jaar of twee te wag voordat die boek verskyn nie.

Ek het laat in my lewe begin skryf en kan nie met elke manuskrip drie jaar neem voor ‘n boek gepubliseer word nie. Ek hou ook nie daarvan dat die skrywer se uniekheid in ‘n boks geprop word vir die voorspelbare boy-meets-girl-and-fight-and-kiss -tipe boeke nie. Die tweede voordeel is dat ek Elsabé Welman kan wees, met my unieke aanslag, my unieke stories, my unieke skryfstyl.

Ek het besluit dat daar ander opsies is en het nog nooit teruggekyk nie, maar moet geflous word nie – selfpublikasie is skrikwekkend as jy daarmee begin. Ek het eers van ’n selfpublikasie-uitgewer gebruik gemaak en stelselmatig gemaklik geraak met die proses. Ek is baie gemaklik met selfpublikasie en help nou ander skrywers ook daarmee.

Wat inspireer jou om te skryf? Klink vreemd vir fiksie, ek weet, maar dis my wens dat elke boek of kortverhaal vir iemand iets sal beteken. Mense wat my ken het gevra hoekom ek nie op Christelike fiksie konsentreer nie? My antwoord: dan gaan nie-Christene waarskynlik nie die boek lees nie. Die lewe en sy leerskool is vir almal. Ek hoop dat elke verhaal iemand kan motiveer, dalk kan troos of selfs hoop gee indien ’n leser met dieselfde ding worstel as my karakters.

Hoe het jy jou skryfproses oor die jare ontwikkel? Ek slurp alles in wat ek kan, soos ’n spons. Ek neem kritiek ernstig op om dit ’n volgende keer te verbeter of die fout te vermy. Ek is konstant besig om artikels te lees of webinars aanlyn by te woon – sodat ek dit kan toepas. Ek behoort aan skrywersgroepe, en pen belangrike inligting neer wat my skryfwerk kan opskerp. Ek luister wat lesers sê van my en ander skrywers se boeke om sekere dinge te vermy of om dit te gebruik.

Watter skrywers of boeke het die grootste invloed op jou gehad? Madeleine Rust. Elke boek van haar is ’n verrassing. Jy hoor nie haar stem nie, jy maak kennis met unieke karakters. Sy het nie onnodige detail in haar boeke wat die pas verslap nie. Die storie loop!

En Maretha Maartens met haar elegante eerlikheid in boeke soos ’n Pot vol Winter en Klankgrens . Sy as mens het my werklik beïndruk. Francine Beaton en Marilize Roos met hul waardevolle insette oor die skryfwêreld en selfpublisering. Hul motivering is van onskatbare waarde.

Hoe gaan jy om met skrywersblok? Ek ervaar dit gelukkig nie baie nie, maar wanneer dit gebeur, tob ek nie of word angstig nie. Ek maak die rekenaar toe, bedink die storielyn of volgende toneel saans as ek nie slaap nie of as ek buite op ’n tuinstoel sit – en siedaar – as ek die rekenaar oopmaak is ek weer aan die gang.

Kan jy jou gunstelinggenre beskryf? Spanningsromanse of speurromanse (dit is wat ek graag lees). Wanneer ek skryf, moet daar drama en spanning wees. ? My lesers se maagspiere moet saamtrek en ontspan, saamtrek en ontspan. Goeie oefening. ?

Ek sukkel om ’n storie te ignoreer as hy effens buite my gewone genre val. Ek het al toekennings gekry vir kortverhale in Jeugfantasie. Ek het jong volwassene romanses gepubliseer. As die storie daar is, moet hy uit.

Hoe belangrik is navorsing vir jou skryfproses? O, baie belangrik. Geen skrywer wil hêdat ’n leser moet dink jy sit die pot mis met werklikheid nie. Om geloofwaardig te wees met feite, moet mens seker maak jou feite is korrek. Ek doen navorsing totdat ek tevrede is, totdat ek dit kan verstaan, totdat ek dink al die feite is gedek sodat ek nie nonsens praat nie. Tannie Google help my baie, maar ek praat ook met mense in die veld om seker te maak ek interpreteer dit korrek. Met Klippe kan Kraak , het ek 'n vriend wat betrokke was met paroolvoorwaardes in korrektiewe dienste geraadpleeg. Die rede: paroolvoorwaardes van vroeër jare in RSA, volgens tannie Google, word dalk nie hedendaags so toegepas nie. Ek het ’n karakter gehad wat ribbes gebreek het. My een beta-leser het gevra of ek al ooit ’n rib gekraak/gebreek het, want my karakter het heeltemal te gou herstel ?‍??. Terselfdertyd waak ek ook om nie té veel info te gee oor ’n subonderwerp nie, want dit kan die aandag aflei en die leser verveel.

H oe gaan jy om met kritiek op jou werk? Niemand hou van kritiek nie, né. In my skryfloopbaan het ek besluit dat dit my nie moet omgooi nie; ek moet eerder die waardevolheid daarvan gebruik. Ek onthou elke stukkie kritiek terwyl ek skryf, want ek wil daarop verbeter.

Mens moet ’n dik vel ontwikkel en kyk wat die kritiek behels. As 99% lesers ’n vier- of vyfster-gradering vir jou boek gee, kan jy nie in depressie verval oor een eenster-gradering nie. Natuurlik gaan nie almal van jou genre of skryfstyl hou nie. Natuurlik wen nie almal pryse of jou kortverhaal word altyd by ’n tydskrif aanvaar nie. Afkeuring van jou werk is deel van die pakket. Dit beteken nie jy is níé ’n skrywer nie. Daardie afgekeurde kortverhale word jou eie kortverhaalbundel. Daardie “nie-publiseerbaar”-briefie van ’n tradisionele uitgewer het ’n #1 geword op Amazon se Beste Afrikaanse verkope (selfgepubliseer). Draai kritiek om in ’n leergeleentheid en ’n “ek kan”-houding.

Watter aspekte van 'n storie vind jy die moeilikste om te ontwikkel? Een waarin ek nie my hele lewe lank tuis is/was nie, een wat nie my normale leefstyl is of was nie. Om byvoorbeeld in die kop van ’n skorrie-morrie, ’n moordenaar, ’n verkragter te klim … Gelukkig is daar baie kriminele kanale op TV waar ek kan kers opsteek. Dis ook moeilik om my manier van praat of gewoonte-woorde uit individuele karakters se dialoog en denke te hou. Dit verg voortdurende konsentrasie Daardie selfredigering! Oor en oor en oor. Ek moet ook bemarking byvoeg. In wese is ek nie ’n bemarker nie, wat nog te sê van my eie werk. Ek sou eerder die tyd wat ek aan bemarking bestee wou gebruik om te skryf. Maar boeke verkoop nie hulself nie.

Hoe belangrik is karakterontwikkeling vir jou skryfwerk? Jou leser wil konnekteer met die karakters. Hulle moet geloofwaardig wees (swak en goeie karaktertrekke, eie dialoog, voorkoms, ensovoorts). Al is jou storielyn minder goed, kan jou karakters jou boek suksesvol maak. Ek werk met volledige karakterkaarte (2 folio’s) en gebruik nie eers alles in die boek nie, maar ek het my karakters leer ken in terme van voorkeure, afkeure, en so meer.

Wat is jou advies vir aspirantskrywers wat wil begin? Glo in jouself, maar jy moet bereid wees om te leer (webinars by te woon of te lees en te lees, na jou lesers en mede-skrywers se raad te luister). Doen behoorlike voorafbeplanning en karakterbou vir elke boek. Sit tyd in met selfredigering, en gee geld uit vir ’n professionele taalkundige/manuskripontwikkelaar. Doen moeite met bemarking (al publiseer jy deur ’n tradisionele uitgewer). Wees gereed om kritiek te kan vat en daaruit te leer. Hou aan! Moenie moed opgee nie. “A professional writer is an amateur who didn’t quit” – Richard Bach

Hoe vind jy die balans tussen werk, lewe en skryf? Ai... soms ’n probleem hoor. Veral as Eskom jou tref met agt ure beurtkrag per dag, jou skryfwerk agterweë bly en daar ’n deadline is. Ek het nie raad nie. As ek iets anders op die agenda moet doen, moet ek maar net die rekenaar toemaak.

Wat is die belangrikste lesse wat jy self geleer het in jou skryfloopbaan? Jy is nooit te oud om te leer nie. Hanteer kritiek, dit vorm jou. Moenie jaloers wees op ander bekende skrywers nie. Moenie dink jy misluk omdat jy nie hul inkomste/bekendheid kan ewenaar nie. Doen jou eie ding. Moenie iemand probeer kopieer nie, behou jou eie uniekheid en skryfstyl. Moenie in ’n boks gedruk word met boek-patrone ter wille van verkope nie. Skryf dit wat binne jou is, gee dit vir die wêreld en bly getrou aan jou eie self. Geniet dit net. As jy dit nie geniet nie, moenie die las op jou skouers sit nie.

Hoe bly jy gemotiveerd tydens langtermynprojekte? Die eindproduk is my motivering! Ek doen dit wat ek moet/kan doen klaar en laat dit lê – totdat die volgende stap in werking tree. Intussen sal ek nie verveeld rondsit nie. Daar is altyd bemarking of die volgende storie om mee aan te gaan.

En laastens, sommer ook om op te som: Hoe gaan jy te werk om 'n storie-idee te ontwikkel tot 'n volledige werk? Ek pen neer (papier en pen): ’n paar hoofpunte. Uit die hoofpunte pyltjies na fyner detail. Teen daardie tyd skuif van die punte dalk rond, selfs nog tydens die skryfproses ook. Skep my karakters. Begin die storie tik... en tik... en verander en aanpas. (Hierdie is die lekkerste deel) Selfredigering (x1000 ?‍?? – die nie-so-lekker-deel) Dan begin ek insette vra van beta-lesers, professionele redigeerder, omslagontwerp. Weer finale selfredigering – formatering – laai e-boek en laat druk sagteband. Bemarking (ook baie tydrowend).

Klik hier om Elsabé se webblad te besoek en hier om na haar boeke op Amazon te kyk. Koop van haar gedrukte boeke hier .


Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: