Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


jan Vermeulen

Martiens Fourie in gesprek met Jan Vermeulen, skrywer van die jeugroman ASEM .


Baie dankie vir die geleentheid om so ’n bietjie meer van die mens agter die boek te wete te kom.

1. Vertel ons eerstens wie Jan Vermeulen is: waar kom jy vandaan; skoolopleiding; tersiêre opleiding, ensovoorts.

Ek is gebore in Bethanie, ’n dorpie in die suidweste van Suidwes-Afrika (Namibië). My skoolopleiding begin aan die Laerskool Eros in Windhoek, en daarna aan die Hoërskool Windhoek.

In Augustus van my matriekjaar gaan ek uit die skool en skryf in dieselfde jaar my matriek (met twee nuwe vakke) deur die destydse SUKSES-korrespondensiekollege sodat ek universiteitstoelating kon kry. (Ek wys nie graag my matrieksertifikaat vir mense nie, maar ek het dit darem gemaak!)

Na my twee jaar diensplig studeer ek BA-Admissie by UPE met hoofvakke Filosofie en Hebreeus. Daarna verwerf ek ’n BTh en lisensiaat in teologie by US.

2. Wanneer en waar het die skryfgogga jou gebyt?

In sub B (graad twee) het ek my eerste “fotoverhaaltjie” geskryf: ’n spa nningsverhaal met prentjies en byskrifte wat deur die hele klas gelees is. So ek weet nie of en wanneer die gogga my gebyt het nie. Dalk is ek maar van geboorte af so.

3. Jy het eintlik teologie studeer, maar as jeugverhaalskrywer bekend geword. Sou jy sê dat jou teologiese agtergrond jou help met karakterisering? Jy het sekerlik in jou beroep baie met jeugprobleme te doen gekry?

Miskien het filosofie my meer gehelp met karakterisering, want dié vak help jou om dinge en situasies rondom jou van verskillende kante te bekyk.

My jarelange ondervinding met jongmense het my hulle lief en leed beter laat verstaan, al verstaan mens mos nooit alles volkome nie. Tye en omstandighede verander gedurig.

4. Ek lees van die “groot geskaaf” aan die manuskrip van ASEM voor jy dit vir die jeugromanwedstryd ingeskryf het. Kan jy sê hoeveel keer jy aan die verhaal of storielyn of “kinkels” en “intriges” verander het? Het jy uiteindelik drastiese veranderings aangebring?

Die basiese lyn van ASEM het nooit verander vandat ek met die storie begin het nie. Die beginpunt en eindpunt van die karakters se reis was vasgestel. Maar die roete waarlangs elkeen gereis het, is dikwels aangepas.

Hoeveel keer ek verander of herskryf het, is moeilik om te sê. Ek het nie boek gehou nie. Maar om jou ’n idee te gee: die boek is reeds in 2010 die eerste keer voltooi. Toe begin die herskrywery. Dit gaan darem seker nie met alle skrywers so nie.

5. Hoe het jy jou karakters geskep? Is daar gebeure of karakters wat op die werklikheid geskoei is, of is alles verbeelding wat so na as moontlik die werklikheid weerspieël?

Niemand kan karakters uit niks (ex nihilo) skep nie, net God kan. So in elke verhaal is daar maar altyd karakters wat gewaagd baie op werklike wesens geskep is, terwyl die meeste karakters uit ietsie van almal saamgestel is.

Al die karakters in my eerste twee boeke is gevaarlik naby aan werklike karakters geskoei. In ASEM is almal suiwer fiksie, maar beïnvloed deur eie ervaring en dinge wat in mense na aan my se lewens gebeur het.


6. Wat is die nut van skryfkursusse? Sal jy dit aanbeveel aan voornemende skrywers, en hoekom?

Ek was in standerd ses (graad 8) toe ek my eerste skryfkursus gedoen het: Kortpad na Knap Kortverhale . Hoewel ek honderde kortverhale ingestuur het en net twee daarvan gepubliseer is, het ek toe reeds die waarde van skryfkursusse geleer. Want die ‘basics’ van skryf bly altyd dieselfde. Jy kan kies om oor die loop van jare al die skryfgeheime op eie ondervinding aan te leer, of jy kan skryfkursusse bywoon en uit die jare lange ervaring van gesoute skrywers en uitgewers put. Verbeel jou iemand wil graag ’n noodhulpwerker by groot sportbyeenkomste word, maar dink liefde vir die saak is genoeg om die taak suksesvol te doen ...

7. Watter waarde heg jy aan teksredigeerders en proeflesers? Luister jy na hulle raad?

Veral my eerste en my derde boek sou nie gewees het as ek nie na die redigeerders en proeflesers wou luister nie. Albei die boeke is ‘n paar maal herskryf, verkort, spanningslyne aangepas, karakters bygevoeg of weggeneem. Hierdie mense se passie is nie om jou vuur te blus nie, maar om jou oor die wenstreep te help. Uiters waardevol. My tweede boek, Geraamtes dra nie klere nie, is feitlik net so gepubliseer, met geringe taalkundige korreksies. Dit gebeur seker nie dikwels nie.

8. Sommige mense dink jy skryf of tik net ’n verhaal, stuur dit in en dit word gepubliseer. Watter raad kan jy aan voornemende skrywers gee oor die skryfproses?

Wees gereed om ’n hindernisbaan wat voortdurend verander aan te pak, maar as jy glo in wat jy doen, voltooi jy die hindernisbaan treevir tree.

9. Iemand anders het onlangs gesê dat dit eintlik baie moeilik is om ’n jeugverhaal te skryf, want die jeug is nie “dom” nie. Stem jy saam?

Toe ek jonk was, het ek eerder die boeke van CF Beyers-Boshoff, Elmar Steyn en Heins G Konsalik gelees. Beyers-Boshoff het suksesvolle liefdesverhale, spanningsverhale en kinderverhale geskryf. Hoekom het ek die drie manne se boeke so verslind? Want die jeug is nie dom nie. Hulle kom agter as ‘n skrywer af skryf na hulle toe of hulle allerhande sedelessies wil leer, sonder om by die werklike lewe in hulle stories uit te kom.

10. Watter deel van die skryfproses is vir jou die moeilikste en frustreer jou?

Aan die skryf self, selfs aan die herskryf, is daar vir my geen frustrasies nie. Dit bly een groot passie wat ek uitleef. Wat moeilik en erg frustrerend is, is die lang stilte en gewag na jy jou manuskrip ingestuur het. Dit is gewoonlik maande waarin jy niks anders kan doen as net wag nie. Dan is dit goed om besig te raak met ‘n nuwe storie.

11. Waarom skryf jy? Daar is nie juis geld te maak uit skryf nie!

Skryf is deel van my skeppingsdoel. So ek vra nie vrae nie. Ek skryf net en geniet dit. Daar moet nog ‘n kortverhaalbundel kom, ‘n digbundel, nie-fiksie en iets meer geestelik ook.

12. Jy het nou drie van jou eie boeke op jou boekrak. Sou jy graag nog ’n paar langs hulle wil staanmaak? Lê daar ongepubliseerde werke in jou lessenaar se onderste laai, of iewers op jou rekenaar weggesteek?

Daar is twee manuskripte op my rekenaar, wat deur die keurders afgekeur is, waaraan ek bitter graag weer wil werk omdat ek weet hulle kan nog gepubliseer word. Maar ek het die ‘password’ vergeet en nou kan ek nie die lêer oopmaak nie!

Gelukkig is my sielkundige riller amper klaar. Ek het hom al drie keer herskryf op aanbeveling van verskillende keurders, met die belofte dat hy in die nuwe jaar die rakke kan haal. Drie is ‘n volmaakte getal, maar so is ook sewe en tien en twaalf en honderd-vier-en-veertig ...

Ek sal baie graag nog boeke langs die drie wil staanmaak, ja.

13. Kortliks: Waaroor handel ASEM?

Barries kan nie verstaan hoekom sy pa hom mishandel en uiteindelik weggesmyt het toe hy ses jaar oud was nie. Hy haat sy pa, wil wraak neem en verkwalik hom vir alles wat in sy lewe verkeerd gegaan het. Sy gedwonge herontmoeting met die pa bring hom tot op die rand van selfvernietiging, veral wanneer hy die eintlike skokkende waarheid omtrent sy pa uitvind. Die keuse lê dan tussen vernietiging of stukkies bymekaarmaak en nuut bou.

14. Wanneer en waar skryf jy?

Enige denkbare geleentheid wat ek kry om te skryf, skryf ek. Op my bed, by die eetkamertafel terwyl almal om my lewe en TV kyk en hul gewone gang gaan. Hulle pla my nie. Wanneer ek nie fisies skryf nie, skryf ek in my kop. Maar ek vind tog my brein is meer kreatief baie vroeg in die oggend.

15. As jy ’n “lewenswaarheid” aan iemand moet gee, wat sal dit wees?

Moet nooit oorgee nie. (Never surrender.) JK Rowling het haar Harry Potter na twaalf uitgewers sonder sukses gestuur voordat ‘n uitgewer besluit het om ‘n kans te vat.

© 2016. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.


Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: