Welkom by SA Vryskutskrywer - Skrywer in die KOLLIG

Welkom by SA Vryskutskrywer se afdeling waar ons eksklusiewe onderhoude met skrywers voer.

Die skrywersprofiele word gereeld bygewerk en met nuwes vervang, so kom maak gereeld hier 'n draai om te sien of jóú gunsteling-skrywer nie dalk al 'n beurt gekry het nie.

Kontak ons gerus met enige voorstelle of vir skrywersprofiele of volledige onderhoude met skrywers - ons sal dit graag publiseer.


Edna Cane-Swannepoel

Na ‘n byna noodlottige motorongeluk en ‘n jaar se intensiewe terapie, het Edna Cane-Swannepoel in alle erns begin skryf. ‘n Onvoltooide boek, wat toe reeds al ‘n paar jaar in ‘n laai gelê het, het gestalte gekry namate Edna se lewe ook weer genees is. Die resultaat hiervan was Totsiens aan Gister , ‘n gefiksionaliseerde outobiografie oor die skrywer. Dit is wyd bekend dat skryf terapeutiese waarde het en Edna is ‘n wandelende voorbeeld hiervan. Na die suksesvolle voltooiing en publikasie van Totsiens aan Gister , het sy voortgebou hierop en verskeie ander boeke het uit haar pen verskyn. Wat Totsiens aan Gister so uniek maak, is die feit dat Edna, wat eens as die Tequila Queen van Pretoria “berug” was, feitlik van voor af moes leer om mens te word. Die ongeluk het haar van álles behalwe haar lewe gestroop. Maar sy moes tien persent breinfunksie inboet en met lewenslange oogprobleme sit om haar lewe te kon terugkry en gelukkig te wees. Totsiens aan Gister is ‘n merkwaardige verhaal van groei en ontwikkel. Groei, omdat dit die verhaal vertel van ‘n selfgesentreerde jong vrou wat oneindig baie foute maak ter wille van gewildheid en geld. En ontwikkel, omdat hierdie einste jong vrou ná haar ongeluk haar wilde verlede finaal moes agterlaat om die geluk waarna sy so gesmag het, te kon vind. Sy vertel hier meer omtrent haarself aan Leoni Benghiat.

1. Wanneer en waarom het jy begin skryf? Waarom het dit jou sowat tien jaar geneem om hierdie boek te skryf?

Ek het die boek begin skryf toe ek 19 was. Ek kan nie onthou hoekom ek juis oor aborsie en buite-egtelike verhoudings wou skryf nie. Ek het my pen neergelê nadat drank, partytjies en dwelms die oorhand geneem het. En buite-egtelike verhoudings het ook gevolg. Op 22 was ek in ‘n baie ernstige ongeluk en na ‘n lang periode se herstelproses het ek besluit om weer my pen op te tel. Ek het toe besluit om Totsiens aan gister oor my lewe te skryf – omdat die meeste dinge wat ek in die boek genoem het, wel met my gebeur het.

2. Vertel bietjie iets persoonlik omtrent jouself. 

In die ongeluk waarin ek was, het ek ‘n persentasie van my breinkapasiteit verloor en is dus gestrem verklaar. Woedeuitbarstings, kort van draad, lae konsentrasievlakke, swak spraak en dubbelvisie het gevolg.

3. Hoe skryf jy? Party skrywers is gelukkig genoeg om net te gaan sit en dan vloei die woorde moeiteloos. Is jy ook so bevoorreg?

Ek werk ‘n boek in my kop uit. Heeltemal. Dan begin ek hom tik – wat my gewoonlik twee weke na ‘n maand neem. Hoe verder ek vorder word daar altyd iets verander. Maar ja, ek sal sê ek is gelukkig. Die woorde vloei soms uit my pen ... of in my kop!

4. Vertel ‘n bietjie meer omtrent Totsiens aan Gister se tema?

Ek kon nooit my gestremdheid aanvaar nie. Ek het bly hamer op die verlede. My man, Swannie (toe net my kêrel), het my geestelik baie gelei en ek het besef ek moet Totsiens sê aan gister.

5. Jou ander boeke: Hoeveel ware gebeure kom in jou stories voor? En werklike mense? Hoeveel boeke het jy al geskryf? Brei bietjie uit oor hulle.

In elke boek wat ek geskryf het kom daar iemand voor wat ek al in my lewe ontmoet het. As jy my seergemaak het, lief gehad het, moet jy weet ek gaan oor jou skryf! Nee, in alle erns, ek gee uiting aan my emosies deur te skryf. Ek skryf oor dinge wat al in my lewe gebeur het, wat ek al gedroom het. Ek het al vyf boeke geskryf: Totsiens aan gister (my outobiografie); Soektog na liefde (wat handel oor swaarkry, familiebande en vergiffenis); Drome kan waar word (oor drome wat vervul kan word); Soektog na liefde 2 : Liefde Verraai (die opvolg van Soektog na liefde wat handel oor swaarkry, familiebande en vergiffenis) en Donker hoop (oor verwyte en verlies).

6. Hoe lyk jou skryfplek?

‘n Tafel en stoel – by ‘n oop venster – as ek nie skryf nie kyk ek by die venster uit en dagdroom! Gewoonlik kom dit dan in een van my boeke.

7. Wanneer skryf jy?

Om eerlik te wees, wanneer ek verveeld is begin ek tik. Dan kort voor lank het ‘n woord ‘n sin geword, ‘n sin ‘n paragraaf, ‘n paragraaf ‘n bladsy, ‘n bladsy ‘n hoofstuk en ‘n hoofstuk ‘n boek.

8. Doen jy enige navorsing vir jou stories of skryf jy net uit die hart?

Ek skryf uit my hart. Maar daar is stukkies waaroor ek ook moet navorsing doen. In Soektog na liefde het een karakter Alzheimers en ek het navorsing oor dié siekte gedoen. So ook my volgende boek – Depressie – ek doen nou baie navorsing daaroor voor ek gaan begin tik.

9. Hoe voel jy oor die toekoms van Afrikaanse boeke? Is daar plek om te groei of dink jy dis nou stagnant?

Ek voel Afrikaans sal nooit uitsterf nie, en in my ses jaar as skrywer het ek gesien dat wanneer ‘n storie ‘n leser ‘vang’, hy nie sommer die boek(e) neersit nie!

10. Waar en hoe kry jy jou storie-idees?

Alledaagse dinge – dinge waaroor mense skaam is en nie gewoonlik daaroor sal praat nie. Almal het al seergekry in hulle lewe. In my boeke wil ek hê elke leser moet sien dat dit ‘Okay’ is om daaroor te praat.

11. As ‘n skrywer ... waarsonder kan jy glad nie klaarkom nie?

My koffie!! Ek kan myself nie voorstel om te begin skryf as ek nie koffie het nie. Baie oggende sal ek voor my uitstaar, met my koffie in die een hand – en droom oor my volgende boek. Ek wil nooit my stem verloor of my vingers om nie te kan tik nie. Hoe gaan my stories dan uitkom?

12. Lees jy baie? Wat lees jy?

Ek lees net my Bybel en – Facebook – (haha xx). Omdat my boeke Christelike romanse is, moet ek baie tekste aanhaal om my punt te staaf. En ek lees so nou en dan motiveringsboeke.

13. Watter raad het jy vir beginnerskrywers?

Wees seker dit is wat jy wil doen. En as dit is wat jy wil doen, maak seker dat jy jou navorsing doen as jy oor ‘n spesifieke ‘topic’ skryf – dat niemand aanstoot neem nie. Soos ek voorheen genoem het, ‘n boek begin by ‘n woord, ‘n woord word ‘n sin, ‘n sin ‘n paragraaf, ‘n paragraaf ‘n bladsy, ‘n bladsy ‘n hoofstuk en ‘n hoofstuk ‘n boek. Begin net! Ek was 17 jaar oud toe ek al my drome neergeskryf het op ‘n stuk papier. En toe word die boek Drome kan waar word , gebore. Al wat ek my hele lewe lank doen is skryf. Ek kan nie myself iets anders sien doen nie. Die beste raad wat ek kan gee is net om te begin. Begin net...

© 2016. SA Vryskutskrywer. Alle Regte Voorbehou.


Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: