Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskuthulpbronne

Finansies & besigheid


Hoeveel geld kan 'n skrywer verdien?

deur Leoni Benghiat

Hierdie is ‘n vraag wat ons gereeld kry en die antwoord hierop is omtrent so wyd soos die Heer se genade wat beteken daar is nie ‘n klinkklare antwoord nie.

Kom ons kyk eerstens na die outeur van ‘n boek se moontlike inkomste aangesien die meerderheid navrae wat ons ontvang in verband daarmee is. En daarna bespreek ons die verdienstemoontlikhede van artikels.

Volgens die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging ( PASA ) begin die gemiddelde tantième wat ‘n Suid-Afrikaanse skrywer kan verwag 13% vir gedrukte boeke en 16% vir e-boeke. Natuurlik hang dit ook van die uitgewer self af. Sommige hoë profiel-uitgewers kan selfs méér bied, afhangende van die skrywer en boek self. Om die waarheid te sê kan ‘n e-boek wat goed verkoop jou tussen 25% en 30% tantième besorg. Maar voordat jy jou hande gretig saamvryf en aan jou groot Afrikaanse boek beplan en die geklingel van geld hoor – dit gebeur slegs in uitsonderlike gevalle. Vir die res van ons kyk ons na ‘n gemiddeld van 15% vir ‘n gedrukte boek en sowat 18% vir ‘n e-boek.

Maar wat beteken al hierdie persentasies vir die doodgewone skrywer? Ongelukkig nie vreeslike goeie nuus nie. Gestel nou jou boek kos R250 (‘n gemiddelde prys) in die boekwinkel. Volgens PASA se riglyne ontvang die verkoper omtrent 30% op elke boek wat verkoop word. Die oorblywende bedrag is dus nou sowat R175. BTW teen 15% word ook eers afgetrek. Nou het die bedrag na R148.75 gekrimp. Jou 15% tantième word hieruit betaal en werk uit op R22. Die res (R126.75) behoort aan die uitgewer. Maar wag, daar’s meer. Jan Taks staan met ‘n honger glimlag gereed om 25% van jou powere R22 te vat, want jy kwalifiseer mos as ‘n vryskut en alle vryskutwerk word met 25% belas. Nou kyk jy na ‘n netto bedrag van R16.50 wat uiteindelik aan jou verskuldig is vir die verkope van ‘n enkele boek. En dit word tweejaarliks uitbetaal.

So, waar’s ons nou? Om ‘n verdienste te kan verdien watdarem in jou bankrekening reflekteer, moet jou boek ‘n topverkoper word. Wat is ‘n topverkoperboek? Een wat 10,000 kopieë verkoop. Ja, die somme maak nou vreeslik sin, maar wag ‘n bietjie… ‘n boek wat soveel kopieë verkoop is baie skaars. ‘n Boek word eerder as ‘n “topverkoper” beskou wanneer daar 3,000 kopieë verkoop word. Dis trouens ook die gewone drukoplaag vir enige nuwe boek.

Kom ons werk dus op die veronderstelling dat jou pennevrug 2,000 kopieë sal verkoop. Teen R16,50 per kopie kan jy tot R33,000 verdien, na belasting. Maar dis ‘n groot AS, want daar is geweldig baie aspekte wat ‘n boek se verkope beïnvloed.

Volgende kyk ons na tydskrifartikels en ander skryfwerk. Die vooruitsigte om ‘n lewensvatbare inkomste uit die skryf van artikels te verdien is aansienlik meer as met ‘n roman of nie-fiksieboek. Fooie wissel egter van publikasie tot publikasie. Sommiges is taamlik suinig en betaal die algehele minimum. Maar selfs in hierdie geval kan jy verseker wees van ‘n goeie maandelikse inkomste indien jy jou artikels en voorstelle reg beplan. Die beste plan is altyd ‘n paar artikels in druk te hê terwyl jy terselfdertyd aan ‘n hele klomp ander werk sodat jy altyd die artikelworsmasjien aan die gang hou. Die geheim lê dus daarin om ‘n aanhoudende omset daar te stel sodat jy ‘n aangaande voorraad artikels by publikasies het en net soveel – of selfs meer – waaraan jy werk en wat wag om voorgelê te word. Dis baie werk, maar beslis lonend.

Die algemeen aanvaarde tarief vir artikels – vir tydskrifte, sowel as korporatiewe skryfwerk – is tans R3 tot R4 per woord, wat beteken dat jy in die omgewing van R3,600 tot R4,800 vir ‘n artikel van 1,200 woorde kan verdien. Dis ‘n lekker bedraggie, maar onthou Jan Taks staan alweer bakhand om 25% van elke geldjie wat jy verdien vir die staat te gryp. Jou R3,600 het dus nou aansienlik gekrimp en staan op R2,700 vir ‘n artikel. Jy behoort egter nie heeltemal wanhopig te voel nie, want die kans is bykans 100% dat jy aan die einde van elke belastingjaar ‘n vet bedraggie by Jan Taks sal terugkry. Jy moet net seker maak dat jy al die uitgawes wat jy deur die jaar aangegaan het om jou werk te doen, bewaar sodat jy jou inkomstebelastingopgawe korrek kan invul.

Daar het jy dit. Dis beslis moontlik om ‘n gerieflike inkomste uit skryfwerk te maak, maar jy moet oor genoeg geduld en deursettingsvermoë beskik om jou plan deur te sien.

© 2022. SA Vryskutskrywer. Alle regte voorbehou.

Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: