Welkom by SA Vryskutskrywer - Vryskutgereedskapkis

Taalghoeroe

Vraag & Antwoord

  Het jy enige taalvrae of -tameletjies wat jy wil opper? Klik hier om 'n e-pos te stuur aan ons eie taalghoeroe, Louis van Rooyen .

  Klik hier vir taalwenke .


Emsie Martin wonder oor sosiale media:

Graag die volgende vragie: Wat is die korrekte gebruik - Facebook of facebook in 'n berig of artikel?

  SA Vryskutskrywer se taalghoeroe, Louis van Rooyen, antwoord:

Facebook is nog so nuut dat daar nie werklik uitsluitsel is nie. Myns insiens behoort mens dit bloot as Facebook te skryf; dis nie nodig om dit te kursiveer of in aanhalingstekens te plaas nie, aangesien die naam oorbekend is. Bowendien is die neiging om tipografiese onderskeiding te vermy tensy dit noodsaaklik is.

Daar is geen regverdiging om dit met 'n kleinletter te skryf nie.

Elsa de Jager wonder wat die korrekte gebruik sou wees:

1. ek dring aan daarop

of

2. ek dring daarop aan

   SA Vryskutskrywer se taalghoeroe, Louis van Rooyen, antwoord:

Ek twyfel of mens in dié geval kan praat van 'n spesifiek 'korrekte' en 'foutiewe' gebruik. Weergawe 2 (Ek dring daarop aan) is getrou aan Afrikaans se tradisionele sintaktiese patroon, soos byvoorbeeld 'Ek skakel die lig aan'. Afwyking van die tradisionele patroon dien egter as byvoorbeeld beklemtoning. Al wyk weergawe 1 dan effens van die standaard gebruik af, sal dit funksioneel wees in 'n konteks waar klem 'n rol speel. (Ander ewe geldige oorwegings vir afwyking van die standaard sintaksis is byvoorbeeld steurende assonasie, ontstaan van 'n verwarrende afstand tussen die werkwoord en sy bepaler, ens.)

  Weer eens Johan Niemann wat by die kommas vashaak en vra:

1) Is hier ’n komma tussen “doen” en “vertel” / ”is” nodig? “Wat ’n mens doen vertel nie  altyd die waarheid van jou nie.”

“Wat hy doen is sy eie saak.”

Ek dink half nie daar moet ’n komma wees nie! (As jy ’n “dit” voor die “wat” sit?)

2) Is ’n komma na “So” nodig in die volgende gevalle? Wanneer ek Afrikaans lees, sien ek soms ’n komma en soms nie… “So, wat gaan jy daar in Europa doen?” Of:

“So jy is eintlik ’n akteur.”

   SA Vryskutskrywer se taalghoeroe, Louis van Rooyen, antwoord:

1) Dis gebruiklik om 'n komma tussen werkwoorde te plaas - wil mens dus getrou bly aan die taalreëls, moet jy dit maar doen. (Die 'dit' voor 'wat' maak dus geen verskil nie.)

2) 'So' in dié geval is 'n tussenwerpsel; die komma is dus nodig ter wille van die sinsritme. 'n Nuttige tegniek wanneer mens skryf, is om die sin hardop te sê. As mens dit met dié sinnetjies doen, is daar 'n duidelik pouse na 'so' (aangesien dit 'n beklemtonende rol speel).

   Johan Niemann skryf:

Ek is tans besig om ’n roman te skryf en sal graag van hierdie ghoeroediens gebruik wil maak.

Oor KOMMAS wil ek graag ’n paar vrae vra:

1) As ek reg onthou, is dit: “Die man wat daar loop, is siek” en “Die man op wie geskiet is, het nie seergekry nie”. Reg?

2) Is hier ’n komma tussen “omdraai” en “dat” nodig? “Dit is toe hy omdraai dat hy sien wie gepraat het.”

3) Oor “dan” en “toe”: Watter een is korrek?

Dit is ’n rukkie stil. Dan sê Tom: …

Dit is ’n rukkie stil. Toe sê Tom: …

   SA Vryskutskrywer se taalghoeroe, Louis van Rooyen, antwoord:

1) Ja. Tegnies is die reël wanneer die woord waarop die voornaamwoord betrekking het (die antesedent) sonder 'n voorsetsel gebruik word (m a w die wat volg direk), word wat altyd gebruik (Onse Vader wat in die hemel is...)

2) Nee. Afrikaans gebruik dat en wat toenemend op gelyke voet in dié tipe konstruksie. Was die sin "Dis toe hy omdraai wat hy sien..." is dit duidelik dat geen komma nodig is nie. Mens sou die komma alleen gebruik om die sin meer gedrae te laat klink, wat 'n stilistiese eerder as grammatikale aangeleentheid is. Mens moet ook in ag neem dat die gebruik van leestekens, waarskynlik onder die invloed van haastige digitale skrywers, aan die taan is.

3) Streng gesproke is daar 'n betekenisverskil: 1 is in die toekomstige tyd, 2 is in die historiese teenwoordige tyd. In die praktyk sal die leser - aangesien die roman in die historiese teenwoordige tyd geskryf word - geen betekenisverskil agterkom nie. Mens sal dit dan ervaar as effens losser taalgebruik, aangesien die historiese toe eintlik korrek is.

Vertel 'n vriend hiervan: Kontak ons


Nog nie op ons GRATIS nuusbrief ingeteken nie? Klik hier en kry dadelik jou gratis skrywersalmanak en hulpmiddels wanneer jy jou intekening bevestig.

Vertel 'n vriend van ons

Sluit venster Skryfkursusse Blitskursusse

Create a Mobile Site
View Site in Mobile | Classic
Share by: